Local NewsNews

GPF-lede vas oor gebruik van embleem

Twee lede van Nirvana GPF kan moontlik aangekla word dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het nadat hulle Saterdag deur die polisie gearresteer is en twee voertuie met waarskynlik onwettige polisie-embleme op, gekonfiskeer is. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die saak sou Maandag voor die Polokwane landdroshof aangehoor word, maar is toe nie op die …

Twee lede van Nirvana GPF kan moontlik aangekla word dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het nadat hulle Saterdag deur die polisie gearresteer is en twee voertuie met waarskynlik onwettige polisie-embleme op, gekonfiskeer is.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die saak sou Maandag voor die Polokwane landdroshof aangehoor word, maar is toe nie op die rol geplaas nie hangende verdere ondersoek.
Die twee verdagtes is Maandag vrygelaat en Ngoepe sê die klagte kan op ‘n latere stadium heringestel word as die ondersoek afgehandel is. Hy kon nie bevestig of die gekonfiskeerde voertuie aan die lede terugbesorg is nie.
Die lede is glo aangekeer nadat die polisie gesien het dat hulle voertuie die polisie-embleem op het, maar dat die bewoording slegs na Nirvana GPF verander is. Daar is op die twee voertuie beslag gelê vir verdere ondersoek.
Die provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba, het die gebruik van die embleem deur mense wat nie by die polisie in diens is nie ten sterkste veroordeel omdat dit verwarring in gemeenskappe veroorsaak en die goeie naam en werk van die polisiediens en die GPF skade berokken.
“Enigiemand wat homself daaraan skuldig maak, sal met die gereg te doen kry. Mense wat voertuie met polisie-embleme sien en nie seker is of dit wettig aangewend word nie, moet die naaste polisiestasie onverwyld in kennis stel,” sê Ledwaba.

story: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button