BusinessNews

Gebruike, tradisies en fantasie van Kersfees

By die Lotriet-tuiste in Polokwane loop die opgewondenheid hoog oor ‘n samesyn wat vir die eerste maal in etlike jare gesinstyd by die huis sal beteken. Vir die jong Aerin en Ingrid se onthalwe sal dit ‘n feesgety wees wat deur die gebruike, tradisies en fantasie van Kersfees gekenmerk word. Volgens ma, Alicia, sal dit …

By die Lotriet-tuiste in Polokwane loop die opgewondenheid hoog oor ‘n samesyn wat vir die eerste maal in etlike jare gesinstyd by die huis sal beteken. Vir die jong Aerin en Ingrid se onthalwe sal dit ‘n feesgety wees wat deur die gebruike, tradisies en fantasie van Kersfees gekenmerk word.
Volgens ma, Alicia, sal dit hul eerste Kersvakansie in baie jare wees wat die gesin alleen by die huis is en nie saam met die twee se grootouers, wat vanjaar reeds planne het, sal deurbring nie.
Vir hulle gaan dit heerlike samesyn beteken en daar word beoog om die twee vreeslik te bederf. Sy verduidelik dat hulle die geleentheid sal gebruik om die boodskap van welwillendheid en liefde met hulle te deel en hul oor die simboliek rondom die gee van geskenke en die ster bo-op die Kersboom te leer.
Alicia vertel voorts dat sy en haar man albei lief is vir kook en dat hulle spesiale moeite gaan doen met die voorbereiding van die Kersmaal. Daarbenewens sal hulle geskenke oopmaak, klappers trek en natuurlik Boney M se Kersmusiek uitpak, lag sy.
Die drie Lotriet-vroue het verlede week by The Pavillion in Polokwane aangedoen vir ‘n fotosessie waartydens daar op die feesmaal wat Gavin Rauch en sy formidabele span voorberei het, gefokus is.
Rauch het sy kreatiwiteit ingespan om aan die vereistes vir die voorafversoek vir ‘n gedekte tafel in die fontein by die restaurant te voldoen en alle verwagtinge oortref.
Die voorgereg het bestaan uit carpaccio met parmesaan en vars sprietuie afgerond. Die hoofgereg was vis met baba-aartappels in knoffel met groenbone by.
Op ‘n stadium was die versoeking van die waterboë op die warmste dag van die week vir die agtjarige Aerin en vyfjarige Ingrid byna groter as die versoek om met die kamera saam te speel. Die frustrasie het wel op ‘n einde gekom en hul kon aan die pana cotta met bessies vir nagereg weglê voordat hulle in die water baljaar het.
Wat eintlik ‘n werksverpligting was, het later ‘n gulde geleentheid gebied vir skoene-uitskop in die koel lafenis van ‘n lowergroen wegbreekhoekie in die hart van Polokwane.

Storie en foto’s: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button