Herprogrammeer jou brein’ – Beer

“Weet wie jy is, waartoe jy in staat is en wat jou skeppingsdoel is,” het Lynette Beer Saterdagoggend aan vroue gesê wat Suikerbekkie Kleuterskool se Damesoggend bygewoon het. Beer, ‘n teoloog en lewensafrig­ter het vier verskillende temperamente van die proto-psigologiese teorie wat mense in vier kategorieë opdeel, verteenwoordigend van vier kleure, gebruik om vroue uit …

“Weet wie jy is, waartoe jy in staat is en wat jou skeppingsdoel is,” het Lynette Beer Saterdagoggend aan vroue gesê wat Suikerbekkie Kleuterskool se Damesoggend bygewoon het.
Beer, ‘n teoloog en lewensafrig­ter het vier verskillende temperamente van die proto-psigologiese teorie wat mense in vier kategorieë opdeel, verteenwoordigend van vier kleure, gebruik om vroue uit te daag om hul denke te herprogrammeer om hulself en ander beter te verstaan en effektief te kommunikeer.
“Jy hoef nie jou temperament te verander nie, maar weet wie jy is deur jou positiewe en negatie­we persoonseienskappe te ken en tot jou voordeel te gebruik want dit bepaal hoe jy na die lewe kyk en optree.”
Sy het ook beklemtoon dat God jou temperament vir jou gegee het en dat jy eerstens jou identiteit in Christus moet hê want dan is jy vry van ander se opinies oor jou. Ongelukkig word ons meestal dié mense wat ander van jou sê en Satan gebruik dit teen jou. “Hou op om jou te vergelyk met ander en vier jou eiesoortigheid.” Sy meen elke mens het vier keer meer emosionele intelligensie as IK nodig om suksesvol te wees.
“Binne die eerste sewe sekondes vorm mense indrukke oor iemand wat hulle nie ken nie, maar sien. Só oordeel ons mense en maak foute. Ongeag eerste indrukke wat kan verander, is dit die konstante daaglikse interaksie wat bevestig wie jy is.”
Beer beveel ook aan dat jy negatiewe kommentaar of aanmerkings laat gaan of jou herprogrammeer om iets positiefs te sê want enige saak het ‘n positiewe kant.
“Die oomblik wat jy ‘n gedagte het gaan dit oor in ‘n emosie wat ‘n gesindheid word. Beskerm jou gedagtes, herprogrammeer dit deurgaans en dink mooi voor jy optree want jy kan met woorde vestig of vernietig. Pasop vir oordeel en onthou woede en vrees is negatiewe emosies wat jou siek maak en die Heilige Gees bedroef. As jy liefde het, het jy nie vrees nie en selfbeheersing verdryf woede.”
Sy het afgesluit deur vroue uit te daag om te erken as hul foute maak en om verskoning te vra.
Verskeie uitstallers het ekstra luister aan die oggend verleen.

Storie en foto’s: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Antoinette Steyn, EQ4Kids, Willemien Karsten, organiseerder van die Damesfunksie, Lynette Beer, spreker en Lize van Dyk, Suikerbekkie Kleuterskool-hoof. Agter is Willie Trydsman, EQ4Kids.
Gaste wat die geleentheid bygewoon het, is Winnie Roux, Nicolien Stapelberg, Hettie de Wet en Annette Meiring.
Onder die gaste was Enid Erasmus en Cindy Cronjé.
Teresa Taylor het Tupperware en skoonheidsmiddels uitgestal.
Dames was beïndruk met die sandale wat Jolanti Pretorius verkoop het.

Related Articles

Back to top button