Noordelikes se Speler van die Jaar – leier en spanspeler

Wanneer Goldwagen Noordelikes se eerstespanlosskakel, Juan Vos, op die veld draf, lewer hy nie net kookwaterspel nie, maar is ook kalm en oopkop om vinnig strategiese besluite te neem. Dié eienskappe wat van ‘n gewone speler ‘n uitstaande speler maak, hope talent, ‘n groot liefde vir rug­by en baie deursettingsvermoë het meegewerk dat Vos Saterdagaand …

Wanneer Goldwagen Noordelikes se eerstespanlosskakel, Juan Vos, op die veld draf, lewer hy nie net kookwaterspel nie, maar is ook kalm en oopkop om vinnig strategiese besluite te neem.
Dié eienskappe wat van ‘n gewone speler ‘n uitstaande speler maak, hope talent, ‘n groot liefde vir rug­by en baie deursettingsvermoë het meegewerk dat Vos Saterdagaand as Speler van die Jaar tydens Noordelikes se jaarlikse prysuitdeling aangewys is.
“Ek is trots op myself en voel geëerd omdat ek eers aan die begin van die jaar by die klub aangesluit het. Dit was ‘n aangename verras­sing en die beste motivering vir die komende seisoen,” sê Vos.
As bulletjie het hy by Laerskool Pietersburg-Oos met rugby kennis gemaak en as o.12-speler Limpopo-kleure verwerf en die provinsie in die o.13-Cravenweekspan verteenwoordig.
Dit is ook daar waar Hoërskool Florida in Johannesburg hom raakgesien en ‘n rugbybeurs aangebied het.
Op hoërskool het hy vir die o.16- en o.18-Akademieweekspan uitgedraf en na matriek in 2015 teruggekeer na Polokwane om by Curro Heuwelkruin as studente-onderwyser aan te sluit terwyl hy onderwys deur Unisa studeer.
Verlede jaar het die rugbygogga weer gebyt en hy het by Dendron Rugbyklub aangesluit, maar na die ontbinding van die klub was Noordelikes Rugbyklub die logiese keuse. “Ek is nog nie een dag spyt nie. Van die spelers tot die bestuur bied ‘n ongelooflik ondersteuningstruktuur en deel dieselfde passie vir die spel,” sê Vos.
Die Goue Leeus het Vos vanjaar ook nadergehark om deel van die nasionale Supa Barbarianspan te wees wat verlede maand in die Tsjeggiese Republiek getoer het. “Dit was ‘n onbeskryflike ervaring en die beste geleentheid om internasionale blootstelling te kry. Die span het uit amateurspelers van regoor die land bestaan.”
Hy het nog altyd losskakel gespeel en meen die eienskappe van ‘n goeie speler met die 10 op sy rug is iemand wat goeie leierskap toon en vinnig op sy voete kan dink. “‘n Losskakel is in beheer van die spel wat dit deurgaans in ‘n breukdeel van ‘n sekonde moet opsom en besluit of die bestaande spelpatroon moet verander, al dan nie. Boonop moet ‘n losskakel ‘n akkurate skopvoet hê en blitsvinnig wees.”
Die grootste genot van rugby is vir hom om saam met sy spanmaats en vriende op die veld te wees en te weet almal het ‘n gemeenskaplike doel voor oë.
“Spelers vorm mettertyd hegte bande en raak soos broers wat emosies deel en deur dik en dun bymekaar staan.”
Fiksheid is vir hom een van die belangrikste faktore en hy spandeer tussen twee en drie uur per dag aan sy skopwerk en fiksheid. Dinsdae en Donderdae oefen hy saam met sy spanmaats.
Volgende jaar neem hy Curro Heuwelkruin se o.14- en o.15-rugbyspan onder sy vlerk en hoop om sy stempel op dié jong spelers af te druk.
Noordelikes-hoofafrigter, Frederik Romijn sê Vos is een van die talentvolste spelers wat hy al afgerig het. “Hy som ’n wedstryd baie goed op en sy verdediging is puik. Omdat hy ‘n spanspeler is, stel hy altyd die span eerste. ’n Blink toekoms wag vir hom op die rugbyveld.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button