Local NewsNews

Ses in stad aangekeer vir dwelms, gewapende roof

Die polisie het Vrydag nie net op Polokwane se sakekern nie, maar ook op verskeie strategiese plekke in die provinsie toegesak om misdadigers aan te keer. Tydens die operasie is twee verdagtes gevolg en buite die stad op die R37, Lebowa­kgomopad aangekeer en vyf 12,5 kg sakke dagga ter waarde van R210 000 en R6 …

Die polisie het Vrydag nie net op Polokwane se sakekern nie, maar ook op verskeie strategiese plekke in die provinsie toegesak om misdadigers aan te keer.
Tydens die operasie is twee verdagtes gevolg en buite die stad op die R37, Lebowa­kgomopad aangekeer en vyf 12,5 kg sakke dagga ter waarde van R210 000 en R6 200 kontant is in die voertuig gevind. ‘n Mercedes-Benz waarmee die skurke gery het is ook gekonfiskeer, volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe.
Die polisie het tydens die operasie daarin geslaag om vier verdagtes in Seshego aan te keer wat waarskynlik onderweg was om gewapende rooftogte in Seshego, Westenburg en Polokwane uit te voer in hul spore te stuit. Daar is beslag gelê op ‘n rewolwer, vyf selfone en ‘n Honda Jazz. Die oorsprong van die voertuig en die selfone word nog ondersoek.
Ngoepe sê die operasie het uit lede van die misdaadintelligensie, honde-eenheid, Public Order Policing Unit (Pops), die provinsiale opsporingseenheid sowel as speurders en lede van die misdaadvoorkomingseenheid bestaan.
In Thohoyandou het die polisie tydens dieselfde operasie ‘n verdagte voertuig probeer vastrek, maar die verdagtes het geweier om af te trek. ‘n Hoë spoedjaagtog het ontstaan tot op die Sibasapad buite Louis Trichardt waar die oortreders se voertuig teen ‘n vragmotor gebots het. Hulle het toe glo in die veld van ‘n nabygeleë plaas ingehardloop en kon nie weer opgespoor word nie. Twee pistole, 20 rondes ammunisie, twee handskoene en ‘n klapmus is in die voertuig gevind.
Ngoepe sê 119 verdagtes is op aanklagte van verskeie misdade soos die besit van dwelms, gewapende roof, motorkapings en onwettige besit van vuurwapens gearresteer. Verder is tien gesteelde voertuie, 19 vuurwa­pens, drie gewere, 75 rondes ammunisie, 20 selfone, vyf rekenaars, ‘n skootrekenaar, vier televisiestelle, byna 25 kg dagga en dagga­plante, onwettige sigarette en gereedskap gekonfiskeer.
Die verdagtes sal in verskeie howe regoor die provinsie verskyn.
Ngoepe sê die polisie sal voortgaan om soortgelyke operasies uit te voer in ‘n poging om misdaad hok te slaan.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button