Local NewsNews

Groot skade na skool weer onder inbrekers deurloop

Dit blyk dat skole ‘n sagte teiken vir boosdoeners is nadat verskeie skole in die stad die afgelope twee jaar onder inbrake gebuk gegaan het en grootskaalse skade aangerig is. Die nuutste slagoffer is Hoër Landbouskool Kuschke waar Sondagaand by die administratiewe kantoorblok ingebreek en 13 rekenaars gebuit is. Die inbrekers het ‘n gat in …

Dit blyk dat skole ‘n sagte teiken vir boosdoeners is nadat verskeie skole in die stad die afgelope twee jaar onder inbrake gebuk gegaan het en grootskaalse skade aangerig is.
Die nuutste slagoffer is Hoër Landbouskool Kuschke waar Sondagaand by die administratiewe kantoorblok ingebreek en 13 rekenaars gebuit is. Die inbrekers het ‘n gat in die dak en plafon gesny voordat die deur na die personeelkamer oopgebreek is om toegang tot die gebou te kry sê skoolhoof, Manus Celliers.
Hy het gerugte dat leerders Maandag huis toe gestuur is ontken en gesê skoolaktiwiteite het normaal voortgegaan.
“Die administratiewe personeel moes wel die gebou ontruim sodat die polisie hul ondersoekwerk kon afhandel. Die personeel kon Maandag­middag reeds terugkeer. Die skool het skade van ongeveer R200 000 gely.”
Die inbrekers het byna elke kantoor geplunder en al die rekenaars sowel as die alarmstelsel se monitors en kontrolebord gesteel. Die kluis is met ‘n hoekslyper oopgesny, maar die booswigte kon nie toegang tot kon­tant kry nie.
“Gelukkig het ons ‘n reserwekopiesisteem van al die data en die kantoor sal eersdaags weer normaal kan funksioneer. Dit is die tweede keer wat ons geteiken word. In Desember het inbrekers ‘n gat in die muur gekap om toegang tot die kluis te probeer kry,” sê Celliers.
Verlede jaar is daar in Mei binne twee weke by vyf hoër- en laerskole in die stad ingebreek. Koshuisleerders van Happy Days Combined School is deur gewapende rowers van selfone en kontant beroof en in afson­derlike gevalle is daar by Pie­tersburg-Oos, Ivypark, Piet Hugo-laerskole en by Pietersburg Comprehensive School ingebreek.
Ongeveer ‘n maand later het Pietersburg Laerskool deurgeloop toe inbrekers ook toegang deur die dak na die administratiewe gebou gekry het en met ongeveer R38 000 kontant en twee skootrekenaars op die vlug geslaan het. Dié inbrekers se modus operandi is baie eenders as dié van die plunderaars wat Kushke geteiken het, maar teen druktyd kon die polisie nog geen kommentaar gee nie.
Suidskool se snoepie is in Junie geplunder en skade van ongeveer R52 000 is aangerig. Dit wat boos­wigte nie kon steel nie, het hulle gebreek. Byna al die voorraad, toerusting en items wat in die snoepie gebruik word, is gesteel.
Die departement van onderwys se kommunikasiebestuurder, Naledzani Razila sê hulle moedig personeel aan om tydens sulke gevalle nie inligting van die polisie te weerhou nie en hul samewerking te gee sodat alle moontlike leidrade deeglik opgevolg en die skurke aangekeer kan word.
“Die verlies aan skooleiendom is ‘n pynlike ervaring omdat dit produktiwiteit beïnvloed. Die departement het nie geld om gesteelde eiendom te vervang nie wat dit vir skool en departement nog moeiliker maak,” sê sy.

Storie & foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Laaie is uitgegooi en kantore geplunder.

Related Articles

Back to top button