Sport

Chareen Thomas se dood laat groot leemte

Familie, vriende en fietsry-entoesiaste van die stad neem vandag (Donderdag) finaal afskeid van Chareen Thomas (47) wat Saterdag aan kompli­kasies na ‘n onlangse operasie oorlede is. Thomas was bekend vir haar onbaatsugtige insette as voorsitter van die Polokwane Pedallers Cycling Club (PPCC). “Sy was ‘n raakvatter en het haar goed van haar taak gekwyt sedert …

Familie, vriende en fietsry-entoesiaste van die stad neem vandag (Donderdag) finaal afskeid van Chareen Thomas (47) wat Saterdag aan kompli­kasies na ‘n onlangse operasie oorlede is.
Thomas was bekend vir haar onbaatsugtige insette as voorsitter van die Polokwane Pedallers Cycling Club (PPCC). “Sy was ‘n raakvatter en het haar goed van haar taak gekwyt sedert sy aan die begin van verlede jaar tot die posisie verkies is. Sy was altyd positief en het ‘n groot bydrae tot die klubsukses gelewer. Sy het net die goeie in mense raakgesien en het nooit iets terug verwag wanneer sy vir jou ‘n guns gedoen het nie,” sê vriendin en klublid, Ronel Delport.
Delport sê Thomas sal altyd vir haar liefde, deernis en geduld onthou word.
Thomas se man, Aubrey sê hulle is die afgelope vier jaar deel van PPCC en dat sy vrou sedert 1988 in diens van die polisie was.
“Sy het in almal se harte geklim en was iemand wat soveel omgegee het dat sy altyd ander se behoeftes voor haar eie gestel het,” sê hy.
Benewens haar man laat sy twee seuns, Jaco (24) en Ricus (21), agter.
‘n Dankdiens word om 11:00 vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk op die hoek van Grimbeek- en Websterstraat gehou.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button