Local NewsNews

Polisie vra samewerking, raaisel van vermistes verdiep

Die polisie in Limpopo het ‘n dringende beroep op gemeenskappe gedoen om hul samewerking te gee en die raaisel te help oplos van die groot hoeveelheid vermiste persone wat die afgelope twee weke aangemeld is. “Ons ervaar tans ‘n hoë aantal sake van vermiste persone wat aangemeld word en doen ‘n beroep op alle gemeenskappe …

Die polisie in Limpopo het ‘n dringende beroep op gemeenskappe gedoen om hul samewerking te gee en die raaisel te help oplos van die groot hoeveelheid vermiste persone wat die afgelope twee weke aangemeld is.
“Ons ervaar tans ‘n hoë aantal sake van vermiste persone wat aangemeld word en doen ‘n beroep op alle gemeenskappe om veilige reistogte te onder­neem en altyd familielede op hoogte van hul doen en late te hou. Ons moedig ook mans aan om hul vrouens en kinders te beskerm en hul veiligheid te verseker,” sê Ngoepe.
In die nuutste voorval soek die polisie in Sekgosese na die 76-jarige Masetone Malandela van Ga-Raphahlelo nedersetting wat sedert Sondag vermis is. Sy het haar familie Sondag gegroet en was onderweg na ‘n nabye nedersetting, maar het nooit haar bestemming bereik nie.
In Malamulele het die polisie ook ‘n soektog na Vuhlari Makamu, wat sedert verlede Maandag vermis is, van stapel gestuur. Makamu het glo ‘n argument met sy pa gehad, die huis verlaat en is steeds soek.

Thomas Magolela se familie het sy liggaam uitgeken nadat inligting gesirkuleer is.
Vuhlari Makamu van Malamulele is sedert verlede Maandag vermis.

Intussen het die polisie nog drie lyke in die provinsie gevind nadat hul verlede week drie lyke in vier dae van mense wat óf koelbloedig vermoor óf vroeër as vermis aangemeld is, opgespoor het.
Die liggaam van ‘n onbekende man is Maandag in die Tshikota begraafplaas buite Louis Trichardt gevind. Ngoepe sê die slagoffer het verskeie steekwonde gehad en is moontlik elders vermoor waarna sy liggaam in die begraafplaas gestort is. Hy het ‘n langbroek, grys en blou T-hemp en swart skoene aangehad, het ‘n gemiddelde liggaamsbou, kaal kop, kort baard en is ongeveer 40 jaar oud.
Intussen het die polisie Sondag die ontbinde lyk van Suzan Mabala in die bos buite Phadzima nedersetting, Malamulele opgespoor en haar 29-jarige vriend in verband met haar verdwyning en waarskynlike moord in hegtenis geneem. Rodney Tshivula het Maandag in die Dzanana Landdroshof op aanklag van moord verskyn waarna die saak uitgestel is en hy in aanhouding bly.
Polisiebeamptes het ook die liggaam van Thomas Magolela in ‘n lykshuis in Burgersfort geïdentifiseer nadat inligting gesirkuleer is en familie hom uitgeken het.
Magolela het op 27 April vanaf Gauteng by sy huis in Pidima buite Burgersfort aangekom en kort daarna weer gery. Hy is op dieselfde dag in ‘n ongeluk naby Steelpoort dood. ‘n Saak van strafbare manslag is volgens Ngoepe geopen.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button