Jean-Mari Mostert twee keer nasionale boogskietkampioen

‘n Tydverdryf wat Jean-Mari Mostert as ontspanning en manier om van haar tienergeite soos wisselende emosies en frustrasies ontslae te raak sien, het haar die tweede agtereenvolgende jaar ‘n nasionale titel besorg. Die graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) het die boogskiet­afdeling vir juniorvroue onbeperk tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Binnenshuise Boogskietkampioenskappe wat tydens die skoolvakansie …

‘n Tydverdryf wat Jean-Mari Mostert as ontspanning en manier om van haar tienergeite soos wisselende emosies en frustrasies ontslae te raak sien, het haar die tweede agtereenvolgende jaar ‘n nasionale titel besorg.
Die graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) het die boogskiet­afdeling vir juniorvroue onbeperk tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Binnenshuise Boogskietkampioenskappe wat tydens die skoolvakansie in Pretoria gehou is, gewen. Jean-Mari het ‘n totaal van 596 punte uit 600 behaal wat nie net aan haar ‘n goue medalje nie, maar ook provinsiale- en nasionale kleure besorg het.
Die prestasie is die beste manier waarop sy haar laaste jaar as junior­skut kan afsluit omdat sy van volgende jaar af in die jong volwassene-afdeling moet deelneem. “Dit was weer ‘n ongelooflike ervaring, maar ek moet bieg dat my senuwees gedaan was. Alles was egter die moeite werd. Daar was baie deelnemers van regoor die land en elkeen het uit sy pad gegaan om dit vir ‘n volgende persoon aangenaam te maak,” sê Jean-Mari.
Sy wou graag volpunte behaal, maar dink sy was te gretig en het te hard probeer om haar doelwit te bereik. “Ek gaan nooit op die baan met die doel om te wen nie. Ek stel doelwitte en fokus om dit te bereik. Boogskiet is vir my ‘n manier om te ontspan en ek geniet die sport omdat alles wat my bang maak verdwyn sodra ek na die teiken mik.”
Sy sê ‘n goeie boogskut moet nederig en geduldig wees en die sport geniet. “Ek is soms tevrede met ‘n tweede of selfs ‘n vyfde plek, solank ek my doelwit bereik het. As ek dit behaal en wen, is dit ‘n bonus.”
Toe Jean-Mari vier jaar gelede as graad 7-leerder PHS se jaarlikse opedag bygewoon het, het boogskiet haar belangstelling geprikkel en tot bo aan haar prioriteitslys geskuif die oomblik wat sy as groentjie by die skoolhek ingestap het.
Haar prestasies het vinnig saam met haar liefde vir die sport gegroei en in 2015 het sy twee goue medaljes tydens die nasionale African Bowhunting Organisation (ABO)-kompetisie en ‘n silwer­medalje tydens die nasionale binnenshuise kampioenskappe verwerf. Boonop is sy ook as algehele wenner van die jaarlikse ABO Triple Crown-kompetisie aangewys.
Verlede jaar het sy op haar prestasies voortgebou toe sy weer as algehele Triple Crown-wenner en binnenshuise wenner aangewys is. Vroeër vanjaar het sy reeds tydens die eer­ste been van die Triple Crown goud verwerf en as wenner van die Noord-Gauteng Binnenshuise Kampioenskappe uit die stryd getree, gevolg deur haar prestasie om weer as nasionale binnens­huise kampioen aangewys te word.
“Ek oefen elke dag en sorg dat ek minstens 20 pyle skiet. Wanneer ek kwaad of omgekrap is, neem ek my boog en pyle en gaan oefen tot ek kalm is.”
Haar raad aan ander skuts wat wil presteer is: “Vergeet van wen. Stel jou eie mikpunte en werk daarvoor. Die wen sal later vanself kom.”
Jean-Mari se broer, Martin, ‘n leerder van Pietersburg Laerskool, het met twee nasionale kwalifiserende tellings geslaag.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Jean-Mari in aksie tydens die Suid-Afrikaanse
Nasionale Binnenshuise Boogskietkampioenskappe.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button