Local NewsNews

Meer as 30 sterf in naweekverkeer

Limpopo se paaie het oor die langnaweek 15 minder mense se lewens as verlede jaar oor dieselfde tydperk geëis, maar 33 mense is steeds in ongelukke regoor die provinsie dood, een minder as oor die Paasnaweek. LUR vir vervoer, Nandi Ndalane, het gesê sy is steeds bekommerd oor motoriste se gedrag. Beamptes sal voortdurend op …

Limpopo se paaie het oor die langnaweek 15 minder mense se lewens as verlede jaar oor dieselfde tydperk geëis, maar 33 mense is steeds in ongelukke regoor die provinsie dood, een minder as oor die Paasnaweek.
LUR vir vervoer, Nandi Ndalane, het gesê sy is steeds bekommerd oor motoriste se gedrag. Beamptes sal voortdurend op Limpopo-paaie ontplooi word om oortreders aan te keer en ander motoriste se veiligheid te verseker.
Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid se woordvoerder, Joshua Kwapa het in ‘n persverklaring gesê 73 ongelukke is van 26 April tot 1 Mei aangemeld, vier minder as in 2016.
Die hoofoorsaak van ongelukke bly bestuur­ders wat beheer oor hul voertuie verloor terwyl ander bydraende faktore roekelose en nalatige bestuur, voetgangers wat paaie onveilig oorsteek en dronkbestuur is, sê Kwapa.
Hy het na ‘n voorval op die R518 buite Mokopane verwys waar ‘n negejarige seun in ‘n tref-en-trap-ongeluk doodgery is.
Intussen het die polisie se provinsiale woordvoerder, Moatshe Ngoepe, gesê twee sake van strafbare manslag word ondersoek nadat minstens sewe mense in twee afsonderlike ongelukke op Werkersdag oorlede is.
Buite Hoedspruit het ‘n Nissan bakkie en Toyota Yaris trompop gebots wat tot die dood van drie mense gelei het. Hulle is as Pholosho Mashile, Justice Mgiba en Kenneth Nthlamo geïdentifiseer.
Vier mense is op die N1 naby Mokopane dood en drie ernstig beseer na ‘n ongeluk tussen twee voertuie. Die bestuurder van een van die voertuie het waarskynlik beheer oor sy voertuig verloor en voor aankomende verkeer beland, volgens Ngoepe.
In die mees onlangse ongeluk Dinsdagmiddag is twee mense naby Dennilton buite Groblersdal opslag dood toe ‘n BMW, Ford Fiesta en Hyundai Elantra gebots het. Die oorsaak was teen druktyd nog onbekend.
Kwapa het ook na ‘n trompopbotsing naby Northam verwys waarin vier mens gesterf het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button