Local NewsNews

Stad ontaard in dwelmnes

Tot sewe verdagtes word daagliks in Polokwane in verband met dwelms gearresteer en dié getal neem drasties oor naweke en tydens polisie-operasies toe wanneer tot 27 mense tegelyk vir dwelmverwante aanklagte aangekeer word. Die jongste inligting is dat 23 verdagtes gister (Woensdag) tydens ‘n operasie in die stad vir die besit van dwelms binne ses …

Tot sewe verdagtes word daagliks in Polokwane in verband met dwelms gearresteer en dié getal neem drasties oor naweke en tydens polisie-operasies toe wanneer tot 27 mense tegelyk vir dwelmverwante aanklagte aangekeer word.
Die jongste inligting is dat 23 verdagtes gister (Woensdag) tydens ‘n operasie in die stad vir die besit van dwelms binne ses uur aangekeer is. ‘n Tweede taakspan sou die operasie gistermiddag voortsit.
‘n Bron wat daagliks dwelmsake hanteer, sê die polisie in Polokwane werk onverpoos om dié euwel hok te slaan, maar dat die probleem eenvoudig elders kop uitsteek sodra dit in een gebied aangespreek word.
Die bron het Polokwane Observer na verskeie plekke in die stad geneem waar die polisie gereeld klopjagte uitvoer. “Daar is verskeie dwelmhuise in Ivypark, veral naby die park langs die jukskeibane. Hierdie huise voed agente of ‘runners’ wat in die park en onderdorp dwelms verkoop.” In die park laat drentelaars vinnig spaander wanneer hulle ‘n voertuig sien aankom wat vermoedelik volgens hulle die gereg kan wees.
Dwelmmisbruik onder jongmense neem geweldig toe en kinders van so jonk as 13 word gereeld met dwelms betrap omdat dit so vrylik beskikbaar is, volgens die bron. “Dagga word deur plaaslike gemeenskappe gekweek en verkoop, maar die meerderheid dwelms soos Cat en kokaïen word deur buitelandse burgers die land ingesmokkel.”
Volgens hom lê die probleem ook by die regstelsel. “Wanneer iemand in besit van klein hoeveelhede dwelms gearresteer word, word hy deur die hof vrygelaat. Die middels moet eers getoets word en wanneer die uitslae beskikbaar is, word die verdagte weer aangekla. Intussen kan hy sy dwelmverwante misdrywe voortsit. Slegs wanneer groot hoeveelhede verbode middels in ‘n persoon se besit gevind word en daar ‘n moontlikheid is dat hy daarmee handel dryf, bly die verdagte in aanhouding.”
Dagga word in meeste gevalle in verdag­tes se besit gevind, maar dwelms soos nyaope, kokaïen, Cat en kristalmetamftamien, ook bekend as Crystal Meth en Tik, raak meer algemeen, volgens die bron.
Dwelmstatistiek
Volgens die polisie se misdaadstatistiek vir die 2015/16 finansiële jaar wat in September verlede jaar bekendgestel is, was daar sedert 2014/15 ‘n aansienlike styging in dwelmverwante misdade in Polokwane sowel as Limpopo. Verlede jaar is 508 sake in Polokwane aangemeld met 11 268 sake reg­oor die provinsie. Sedert 2014/15 was daar ‘n skielike toename in sake wat in Polokwane (97) en Limpopo (2 108) aangemeld is.
Onlangse arrestasies
In Westenburg het die polisie Saterdag ‘n 42-jarige man in besit van dagga ter waarde van R3 000 gearresteer. In Giyani is ‘n 28-jarige man met 89 pakkies dagga ter waarde van R3 800 op dieselfde dag aangekeer sowel as in Ga-Mashamothane-nedersetting buite Burgersfort waar ‘n 42-jarige man in besit van dagga ter waarde van
R3 300 vasgetrek is.
Die polisie in Burgersfort het Saterdag omstreeks 02:00 reeds ‘n groot deurbraak gemaak toe agt verdagtes gearresteer is. Provinsiale polisiewoordvoerder Moatshe Ngoepe sê 1 642 sakkies nyaope van byna R120 000, Cat van R6 000, Crystal Meth van R140 000, dagga en R28 445 kontant is gekonfiskeer.
Polisiebeamptes het verlede Dinsdag ‘n dwelmlaboratorium in Dennilton buite Groblersdal ontdek waar mandrax-tablette vervaardig word. “Die polisie het op 100 kg mandraxpoeier ter waarde van R10 miljoen en masjinerie van ongeveer R2 miljoen beslag gelê. Twee voertuie wat onlangs in Thabazimbi gesteel is, is ook gevind. Twee verdagtes is in hegtenis geneem,” sê Ngoepe.
Hy het beaam dat die polisie gereelde operasies van stapel stuur om dwelmhandelaars aan te keer. “Die kringeffek van dwelms is kommerwekkend en ons span alle hulpbronne in om skuldiges aan die pen te laat ry,” sê Ngoepe.
Enigiemand wat dwelmverwante sake wil aanmeld kan ‘n SMS-boodskap na 32211 stuur.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Daar is beslag gelê op masjinerie en dwelms ter waarde van R12 miljoen by ‘n dwelmlaboratorium buite Groblersdal.

Related Articles

Back to top button