Joané Spies landwye topmatriek van Curro-groep

Wanneer harde werk en deursettingsvermoë vrugte afwerp, bereik mens sukses. Só meen Curro Heuwelkruin 2016-matrikulant Joané Spies wat as Curro Holdings se landwye beste presteerder uitgesonder is en vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer. Joané het agt onderskeidings verwerf met ‘n gemiddeld van 93,4%. Verder het sy ook onder die top 1% nasionale …

Wanneer harde werk en deursettingsvermoë vrugte afwerp, bereik mens sukses.
Só meen Curro Heuwelkruin 2016-matrikulant Joané Spies wat as Curro Holdings se landwye beste presteerder uitgesonder is en vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer.
Joané het agt onderskeidings verwerf met ‘n gemiddeld van 93,4%. Verder het sy ook onder die top 1% nasionale leerders in Afrikaans huistaal, ingenieursgrafika en ontwerp, Engels eerste addisionele taal en lewensoriëntering geëindig.
Sy was ook onder die top 5% leerders wat bo 80% vir ses vakke asook lewensoriënte­ring verwerf het en slegs een van twee leerders in die hele Curro-groep wat dié prestasie behaal het.
Die slimkop het 89% vir Afrikaanse huistaal, 95% vir Engels eerste addisionele taal, 97% vir wiskunde, 92% vir fisiese wetenskappe, 98% vir ingenieursgrafika en ontwerp, 89% vir lewenswetenskappe, 94% vir lewensoriëntering en 91% vir gevorderde wiskunde behaal.
Sy het Curro se naasbeste matrikulant, Sana Hashmi van Curro Grantleigh in Kwa-Zulu Natal met 1,7% uitgestof en 3,2% beter gevaar as die derde beste graad 12-leerder, Kirsten Barkhuizen van Curro Serengeti in Gauteng.
“Ek is nederig en verras oor my uitslae. Die prestasie het my onkant gevang. Ek het myself onderskat, maar moet erken ek het baie hard gewerk.”
Sy maak dit duidelik dat dit ‘n wanpersepsie is dat slimkoppe nie hoef te leer nie. “Ek het daarna gestreef om goed te presteer. Tien tot 15 ure agter die boeke elke dag was nie speletjies nie, maar ek het vir myself doelwitte gestel wat ek wou bereik.”
Joané het streng by haar studierooster gehou. “Drie weke voor die eksamen was daar nie tyd vir slaap nie. Ek het gesorg dat ek genoeg tyd aan elke vak spandeer sodat ek ook tyd het om by ‘n onderwyser uit te kom indien daar iets was wat ek nie verstaan nie.”
Haar wenresep is om aandagtig in die klas te luister en seker te maak alles is verstaanbaar voor die einde van die periode.
“Die ondersteuning van my ouers en leerkragte het tot my sukses bygedra. Die Kruinie-onderwysers gaan uit hul pad en sit baie ekstra ure in om seker te maak leerders verstaan die werk. Jy kan hulle enige tyd van die dag of nag nader vir hulp. My ouers het my ook gereeld moed ingepraat en aangespoor.”
Nadat Joané haar mediese studies voltooi het, wil sy in pynterapie spesialiseer. “Dit gaan ‘n groot en interessante uitdaging wees. Medisyne het nog altyd my belangstelling geprikkel.”
Kruinies se uitvoerende hoof, Eben Lingenfelder sê Joané was ‘n ongelooflike leerder. Altyd vriendelik, hulpvaardig, geliefd onder onderwysers en ‘n uitsonderlike harde werker. Die lys van haar positiewe eienskappe is eindeloos.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Kruinies en Curro Holdings se topmatriek van 2016, Joané Spies saam met Curro-hoofuitvoerende beampte, Chris van der Merwe tydens die prestasiedinee wat onlangs in Johannesburg gehou is. (foto verskaf)

 

Related Articles

Back to top button