Tiaan Enslin skitter met nasionale krieketweek

Die 14-jarige Tiaan Enslin se droom om eendag professioneel krieket te speel, is nie net ‘n hersenskim nie as mens sy onlangse prestasies op die keper beskou. Die jong ster van Hoërskool Pietersburg (PHS) het gedurende die Desembervakansie tydens die Momentum o.15 Nasionale Krieketweek in Potchefstroom sy staal getoon en is as alsydigste speler van …

Die 14-jarige Tiaan Enslin se droom om eendag professioneel krieket te speel, is nie net ‘n hersenskim nie as mens sy onlangse prestasies op die keper beskou.
Die jong ster van Hoërskool Pietersburg (PHS) het gedurende die Desembervakansie tydens die Momentum o.15 Nasionale Krieketweek in Potchefstroom sy staal getoon en is as alsydigste speler van die toernooi aangewys.
Tiaan is ook drie keer agtereenvolgens as Speler van die Wedstryd teen onderskeidelik Eastlands, Suidwestelike Distrikte (SWD) en Noord-Kaap aangewys en het die algehele derde beste boulsyfer gehandhaaf. Hy het ook die tweede meeste paaltjies (18) tydens die toernooi met ‘n beste telling van vyf paaltjies vir slegs 27 lopies geneem wat hy teen SWD laat kantel het.
Voor die paaltjies het hy ‘n totaal van 148 lopies, ‘n gemiddeld van 21,14 lopies per wedstryd, aangeteken. Sy beste telling was 57 lopies teen Noord-Kaap.
Vir Tiaan was die wedstryde die hoogtepunt van die toernooi, hoewel die samesyn met ander spelers ook uitgestaan het.
“Ek kan afrigters se siening dat die grootste aanpassing van o.13 na o.15-vlak is, beaam omdat die kwaliteit, spoed en moeilikheidgraad aansienlik hoër is. Dit maak dinge op die krieketveld net interessanter omdat mens nie vir ‘n oomblik konsentrasie kan verloor nie.”
Hy speel sedert sy laerskooldae aan Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) krieket en het as o.11, o.12- en o.13-speler provinsiale kleure verwerf en as kaptein van die o.11- en o.13-Oosskool- en Limpopospanne uitgedraf.
As o.13-speler is hy boonop as Oosskool se beste kolwer en algehele speler aangewys en het erkenning vir die hoogste gemiddelde lopietelling gekry.
Sy liefde vir krieket is voortgesit toe hy twee jaar gelede as groentjie by PHS aangesluit het. Vanjaar is hy kaptein van die o.15-span en sy skitterende toernooivertoning was sy eerste groot prestasie as hoërskoolspeler.
“Krieket is ‘n spansport en elke speler moet sy kant bring. Elke wedstryd bring sy eie uitdagings en mens kan geen voorspelling maak nie omdat dit ‘n konstante leerskool is.”
Kolfwerk is sy gunstelingdeel, maar hy erken dat hy al twee keer vir nul van die veld af moes stap terwyl hy gewens het die aarde sluk hom in.
Daarteenoor was sy beste telling 88 lopies nie uit nie in ‘n wedstryd teen Laerskool Tzaneen.
Volgens hom is die eienskappe van ‘n goeie krieketspeler nederigheid, die vermoë om konstant te leer en te groei en om in alle omstandighede ‘n heer te bly.
“My sukses lê grotendeels in harde oefening omdat ek vyf keer per week afrigting ontvang.”
Sy droom is om in PHS se eerstespan te wees en eendag vir die provinsiale- en Proteaspan uit te draf.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Die veelsydige Tiaan Enslin het tydens die onlangse Momentum o.15 Nasionale Krieketweek uitgeblink.

 

Related Articles

Back to top button