Local NewsNews

Aanhoudingsdrama eindig vreedsaam

Die beweerde gyselaarsdrama by Secure Crime Prevention se gebou in Hans van Rensburgstraat is Maandag omstreeks 22:00 na suksesvolle onderhandelinge vreedsaam beëindig. Die polisie en lede van die Polo­kwane Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was tot laat op die toneel waar vyf personeellede blykbaar deur ongeveer 30 sekuriteitswagte aangehou is, hangende onderhandelinge oor salariskwessies. ‘n Man wie se …

Die beweerde gyselaarsdrama by Secure Crime Prevention se gebou in Hans van Rensburgstraat is Maandag omstreeks 22:00 na suksesvolle onderhandelinge vreedsaam beëindig.
Die polisie en lede van die Polo­kwane Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was tot laat op die toneel waar vyf personeellede blykbaar deur ongeveer 30 sekuriteitswagte aangehou is, hangende onderhandelinge oor salariskwessies.
‘n Man wie se vrou en skoonma saam met drie ander in die drama aangehou is, sê hy wou ongeveer 15:00 Maandag sy vrou gaan oplaai toe hy by die hek deur aggressiewe wagte voorgekeer is en hulle hom aangeraai het om te ry.
Die GPF se hulp is ingeroep om bystand te verleen en het in Marshallstraat, buite die gesigsveld van die ontevrede wagte bymekaar gekom omdat hulle glo oproerig geraak het sodra iemand die gebou probeer nader het. Volgens inligting is slegs twee polisie-offisiere toegelaat waarvan een glo die adjunk-kommissaris vir sigbare polisiëring, Lucas Tlako was.
Daar is later op die toneel ver­neem dat die wagte ongewapen is, maar dat daar wel skade aan die gebou aangerig is nadat ‘n staaldeur afgebreek is.
Eienaar van Secure Crime Prevention, Marlene Barnard het Dinsdag aan Polokwane Observer bevestig dat hul in finansiële knyp is. “Die besigheid is onlangs in sakeredding geplaas en wagte het net gedeeltelike salarisse in Desember ontvang, maar eis hul volle salarisse. ’n GPF-lid, die polisie en ons prokureur het lank met die ontevrede wagte onderhandel om sonder geweld tot ‘n beslissing te kom. Ons is nog geskok oor die voorval, maar gelukkig is niemand beseer nie.”
Die GPF-woordvoerder, Johan Retters het gesê almal is ongedeerd. “’n Ooreenkoms is blykbaar bereik en ons het ongeveer 22:00 Maandagaand van die toneel verdaag,” sê hy.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Mampashwa Seabi kon nie die voorval bevestig nie.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: ‘n Polisievoertuig voor Secure Crime Prevention se kantore.

Related Articles

Back to top button