BusinessNews

Tuin vir geveerdes

Om ‘n tuin te skep waar voëls tuis is, gaan nie net oor ‘voëltjies kos gee’ nie, maar om ‘n habitat te begin en weg van gif te bly. Die maklikste definisie van habitat is ‘huis’. Dus alles wat die voëls nodig het wat kos, water, skuiling, nesmaakmateriaal, plek om ‘n nes te bou en …

Om ‘n tuin te skep waar voëls tuis is, gaan nie net oor ‘voëltjies kos gee’ nie, maar om ‘n habitat te begin en weg van gif te bly.
Die maklikste definisie van habitat is ‘huis’. Dus alles wat die voëls nodig het wat kos, water, skuiling, nesmaakmateriaal, plek om ‘n nes te bou en plek om te sit en sing, insluit.
Sommige voëls verkies do­ringbome en digte boskasies, soos deurmekaarbos en katjiepiering terwyl ander hoë woudbome wil hê. Party soorte hou van ‘n voëlbad, terwyl ander vlakker water of ‘n sproeier verkies.
Die maklikste voëls om te lok is suikerbekkies omdat ‘n groot verskeidenheid blomme, wat reg deur die jaar blom, hul gelukkig hou. Plant dus so dat daar blomme vir elke seisoen is. In die laatherfs tot midsomer blom die Notsung (Halleria lucida), terwyl rivierklokkies (Phygelius aequalis) in die somer tot herfs nektar voorsien. Strelitzias (Strelitzia reginae) blom in die herfs, winter en lente en koraalbome (Erytrina spp) van laatwinter tot vroeglente.
Om insekvretende voëls te lok, moet mens plante hê wat insekte lok. Nie alle goggas is peste nie en baie insekte beheer juis lastige soorte. Dink maar aan liewenheersbesies en hotnotsgotte wat luise eet.
Wat ‘n plesier om die voëltjies te sien luise afpik van die plante. Niemand wil plantluise hê nie, so lok maar die voëls en voordelige goggas.
Wildeperske (Kiggelaria africana), wildekastaiing (Calodendrum capense), kurkbos (Mundulea sericea), laventelboom (Heteropyxis natalensis), bosbeesklou (Bauhinia tomentosa), huilboerboon (Schotia brachypetala), witolien (Buddleja saligna) en Transvaalliguster (Galpinia transvaalica) is bekend daarvoor dat hulle insekte na tuine lok.
Ons land is geseën met ‘n ryke verskeidenheid wilde vrugte, en daarmee saam die kleurvolle skare wat daarop leef. Die grootte van vrugte aan inheemse bome is enigiets van skaars groter as ‘n speldkoppie tot so groot as amper ‘n tennisbal. Die voëls wat die vrugte eet is eweneens van piepklein tot loeries.
Blinkblaar (Rhamnus prinoides), klein noemnoem (Carissa bispinosa), blink­blaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata), deurmekaarbos (Ehretia rigida), rooipendo­ring (Gymnosporia se­negalensis) is bekend vir hul klein vruggies wat vrugtevreters lok.
– Calidendron Inheemse Kwekery

Hooffoto: ‘n Janfrederik geniet die koel water van ‘n voëlbad op ‘n warm dag. (foto verskaf)

 

Related Articles

Back to top button