Local NewsNews

Polisie beplan operasie nadat misdaad eskaleer

Die Westenburg polisie in samewerking met die boere van die Waterval-omgewing net buite die stad, beplan ‘n intensiewe operasie om ‘n groep misdadigers wat plaaseienaars in die gebied die afgelope twee maande rot en kaal besteel het, vas te trek. “Ons is bewus daarvan dat misdaad in die gebied toeneem. Veral huisbraak en diefstal het …

Die Westenburg polisie in samewerking met die boere van die Waterval-omgewing net buite die stad, beplan ‘n intensiewe operasie om ‘n groep misdadigers wat plaaseienaars in die gebied die afgelope twee maande rot en kaal besteel het, vas te trek.
“Ons is bewus daarvan dat misdaad in die gebied toeneem. Veral huisbraak en diefstal het die hoogte ingeskiet. Benewens die operasie om die misdadigers vas te trek, hoop ons om die naweek ‘n band met die boere te vorm,” sê Westenburg polisiewoordvoerder, Mohlaka Mashiane.
Mashiane het in die verlede gewaarsku oor ‘n groep van ongeveer sewe verdagtes wat die afgelope paar weke veral plaaswerkers in die Soetdorings- en Leeuwkuil-omgewing geteiken het. “Ons vermoed dit is dieselfde groep wat Maandagaand leerders van Happy Days Combined School op Leeuwkuil van geld en selfone beroof het. Die moontlikheid bestaan dat die groep hul aktiwiteite van een gebied na die ander skuif wat dit moeiliker maak om hulle aan te keer,” sê Mashiane. *Sien berig elders
Peet Strydom, ‘n boer van die Waterval-
area, sowat 17 km na die Zebedielapad-afdraai (R519), was al herhaaldelik ‘n slagoffer van diefstal. Hy het Sondag aan Polokwane Observer vertel van die nuutste voorval verlede Woensdagaand toe sewe verdagtes toegeslaan het.
“Hulle het by die kombuisvenster ingekom. My huistelefoon se alarm het afgegaan en dit het hul vermoedelik die skrik op die lyf gejaag,” sê Strydom en voeg by dat misdaad nog nooit so erg soos nou is nie. Hy en sy gesin woon al 25 jaar op die plaas.
“Ek het duisende aan sekuriteit spandeer. Die afgelope twee maande is verskeie boere se heinings en slotte soos in my geval geknip. By my is hoenders, voer, ‘n boorgatpomp en my plaasbakkie al gesteel. Die bakkie het nie aangeskakel nie, maar die booswigte het eers voer en sowat 200 hoenders opgelaai voordat hulle die voertuig tot in die hoofpad gestoot en met ‘n ander voertuig weggesleep het,” sê Strydom.
Boere is ook ontevrede met die polisie se diens. Tydens die nuutste voorval is die polisie omstreeks 02:18 geskakel en teen 05:19 was daar steeds geen reaksie nie.
“In insidente waar boere diewe vastrek en die polisie ontbied, trek die boere telkens aan die kortste ent. ‘n Watertenk wat onlangs gesteel is, is in besit van ‘n vermeende dief gevind. Toe die polisie daar kom het die man net gesê hy het die tenk opgetel en die polisie het die saak laat vaar. Tydens ‘n ander voorval is ‘n saak van die hofrol geskrap omdat die boer nie opgedaag het om te getuig nie, maar hy is nooit in kennis gestel om in die hof te wees nie,” beweer Strydom.
Nog ‘n inwoner, Koos Groenewald het ook bevestig dat diefstal ‘n groot probleem is. “Ek het self al baie skade gelei met items soos sonpanele en batterye wat gesteel is,” sê hy.
Martin Potches sê dit is ongelooflik hoe misdaad oor die afgelope maand toegeneem het. “My varke is al in hul hokke met pype doodgeslaan en gesteel. Dit raak nou eens te erg en ons vrouens en kinders is soms alleen by die huis. Daar sal daadwerklik aksie geneem moet word om hulle aan te keer.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Foto: Westenburg polisie beplan ‘n intensiewe operasie in die Waterval-omgewing in ‘n poging om ‘n groep van sewe verdagtes wat boere die afgelope twee maande terroriseer, vas te trek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button