Local NewsNews

Vrou uit kake van die dood gered

Die jong Dawid Traüernicht het na afloop van die nagmerrie wat ontvou het toe sy ma Sondag tydens ‘n gesinsuitstappie aan die Selati-rivier buite Phalaborwa deur ‘n krokodil van nagenoeg ses meter aangeval is, verwag dat die nare droom spoedig sou eindig. Vir die 12-jarige het die voorval soos ‘n nare droom gevoel, het hy …

Die jong Dawid Traüernicht het na afloop van die nagmerrie wat ontvou het toe sy ma Sondag tydens ‘n gesinsuitstappie aan die Selati-rivier buite Phalaborwa deur ‘n krokodil van nagenoeg ses meter aangeval is, verwag dat die nare droom spoedig sou eindig.
Vir die 12-jarige het die voorval soos ‘n nare droom gevoel, het hy Dinsdagmiddag in ‘n onderhoud langs sy ma, Kelly se hospitaalbed in Polokwane vertel.
Kelly het in die voorval inwendige beserings aan haar longe en lewer asook ‘n ribfraktuur opgedoen. Stukke vleis is uit haar regterarm geruk, sy het krap- en kneusplekke aan haar voorkop, gesig, bolyf en regtersy opgedoen en drie tande verloor.
Sy sal waarskynlik vir etlike weke gehospitaliseer moet word en plas-tiese chirurgie moet ondergaan, maar na alles is sy bly sy leef en skryf sy dit toe aan die Here se beskermende hand oor haar.
Tydens die onderhoud het ge-sinslede om die beurt die tragedie herleef wat ‘n einde gebring het aan ‘n hengeluitstappie sowat 10 km buite die dorp. Vergesel van Dawid se 10-jarige vriend, Leon, het hulle reeds voor 09:00 vir ‘n dag se visvang opgedaag. Die drama het na 13:00 ontvou toe Kelly ‘n vispen vir haar man, Dawie aangegee het om ‘n vis aan die lyn los te haak waar hy in die water gestaan het. Die reuse krokodil het glo uit die water gerys en haar aan die arm gegryp, waarna hy haar onder die water ingedwing het.
Volgens Kelly het die dier haar in ‘n kwessie van ‘n sekonde gegryp en was daar nie tyd om te dink nie, maar sy het nogtans kopgehou en baklei. Haar eerste reaksie was om weg te kom. “Ek het gedink ek is dood. Toe begin ek bid.” Sy het besef dat die krokodil haar arm kon afruk en toe die krokodil ‘n spinbeweging met haar begin uitvoer, het sy uit vrees dat hy haar rug sou breek en haar dood veroorsaak haar ander arm om hom geplaas en slegs aan oorlewing gedink. “Ek dink die Here was by my en het vir my gesê wat om te doen. Dis asof my reaksies natuurlik gekom het.”
Dawie het eers die krokodil met die vuis op sy kop geslaan en daarna vir Dawid geskree om die vispen vir hom te gooi waarmee hy hom in die rug gesteek het.
Dawie sê dat hy aanvanklik sy greep op sy vrou verloor het en in die water wou inspring, maar dat Dawid hom gekeer het. Hy het gesien hoe sy eers vir ‘n minuut onder water verdwyn het en daarna vir ‘n langer tyd onder die water was. Dit is toe dat hy kop begin verloor het, vertel hy. Na verneem word, is Kelly ‘n tweede keer halflyf uit die water gelig terwyl die krokodil haar aan die sy beetgehad het.
Drie mans wat sowat 500 tot 600 meter vandaar op die oorkantste oewer visgevang het, het intussen nader beweeg en met klippe en knopkieries die krokodil probeer verwilder wat Kelly deur die water na aan die wal waarop hulle hul bevind het, gesleep het. Hulle het daarin geslaag om haar uit die water te lig en terwyl sy op die sement op die wal gelê het, het die krokodil nog drie keer probeer om haar aan te val, noem Dawie. Kelly weet nie wie die mans was nie, maar spreek haar dank teenoor hulle uit dat hulle haar lewe help red het.
Die vermoede bestaan dat die droogtetoestande in Limpopo daartoe kon bydra dat die krokodil na ‘n beter voedselbron gaan soek en hom daar bevind het. Benewens die nuus van ‘n bees wat die vorige week langs die rivier deur ‘n krokodil gevang is, is hulle nie bewus van soortgelyke voorvalle by dié gewilde visvangplek nie, verduidelik Dawie. Hulle neem wel die moontlikheid van seekoeie in die omgewing in ag en neem die nodige voorsorgmaatreëls wanneer hulle visvang. Volgens Dawie het hy nog nooit daarvan gehoor dat iemand ‘n krokodilaanval oorleef nie. Vir Kelly is die ervaring steeds onwerklik. Sy benadruk dat sy dit nooit weer naby die water sal waag nie.

Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Foto: Dawie en Dawid Traüernicht by Kelly se hospitaalbed waar sy aansterk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button