Local NewsNews

Oudinwoner sterf toe bakkie in Pretoria rol

Die bekende Prinsloo-egpaar van Polokwane, Bert en Erna, het Maandagaand die skoktyding van hul middelste seun, Jaco (33), se dood ontvang nadat hy sy dubbelkajuitbakkie op ‘n draai ongeveer 15 km van sy huis in Villieria, Pretoria gerol het. Jaco is uit die voertuig geslinger en het op die toneel beswyk. Jaco het in 2001 …

Die bekende Prinsloo-egpaar van Polokwane, Bert en Erna, het Maandagaand die skoktyding van hul middelste seun, Jaco (33), se dood ontvang nadat hy sy dubbelkajuitbakkie op ‘n draai ongeveer 15 km van sy huis in Villieria, Pretoria gerol het. Jaco is uit die voertuig geslinger en het op die toneel beswyk.
Jaco het in 2001 aan Hoërskool Pietersburg gematrikuleer en homself as rekenmeester bekwaam. Hy is met sy skoolliefde, Cecile de Lange, dogter van Leon en Nonnie de Lange van Polokwane getroud en uit die huwelik is twee kinders, Dylan (4) en Jaco (18 maande) gebore. Die egpaar het hulle in Pretoria gevestig waar hul suksesvolle entrepreneurs was.
Jaco se pa, Bert, het aan Polokwane Observer gesê die werklikheid van sy seun se dood het nog nie by hom en sy familie ingesink nie. “Jaco was ‘n pragtige kind, ‘n wonderlike eggenoot en toegewyde pa. Hy het met sy talente gewoeker en reeds vroeg in sy lewe stewige fondamente gelê om ‘n goeie toekoms vir sy gesin te verseker.”
Riaan, ouer broer van Jaco, sê die ongeluk het omstreeks 19:30 om ‘n kort draai in ‘n donker area plaasgevind. “Jaco het moontlik vir iets in die pad uitgeswaai, die motor van die pad geruk en op die grondpad met die terugkomslag na die teerpad beheer verloor. Die voertuig het gerol en Jaco is uit die kajuit geslinger.”
Benewens sy eggenote, kinders, ouers en skoonouers, word Jaco oorleef deur Riaan en jonger broer, Albert.
‘n Roudiens word Saterdag om 10:00 vanuit die NG Kerk, Pierneefgemeente op die hoek van Pierneef- en 26ste Laan in Villieria gehou.

Storie: WILLIE ESTERHUYSEN
>>willie.e@mwebbiz.co.za

Foto: Jaco Prinsloo (33) het in die fleur van sy lewe gesterf nadat sy bakkie Maandagaand gerol het. Saam met hom is sy vrou, Cecile.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button