Local NewsNews

Fratsongeluk eis jong boer

Die De Jager-familie van die stad se lewe is tot stilstand geruk na die dood van Louw­rens de Jager wat Sondagmiddag vermoedelik deur ‘n kortsluiting by ‘n spilpunt op hul plaas net buite Polokwane doodgeskok is. De Jager se ma, Karin ‘n leerkrag van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is Sondag na ‘n operasie vanuit …

Die De Jager-familie van die stad se lewe is tot stilstand geruk na die dood van Louw­rens de Jager wat Sondagmiddag vermoedelik deur ‘n kortsluiting by ‘n spilpunt op hul plaas net buite Polokwane doodgeskok is.
De Jager se ma, Karin ‘n leerkrag van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is Sondag na ‘n operasie vanuit ‘n hospitaal in Pretoria ontslaan en was saam met haar man, Louwrens snr, op pad huis toe, toe hulle die slegte nuus ontvang het. Haar enigste seun is een dag voor haar verjaardag oorlede.
De Jager, sy vrou Lee-ann en hul twee kinders was op die plaas, Doornbult waar hy boer. “Hulle was in die aartappelland om die perde uit die land te verjaag. Louwrens het glo gesien dat die sproeier op die end van die spilpunt afgebreek het en het ondersoek ingestel. Toe hy aan die spilpunt raak is hy glo geskok,” sê Louwrens snr.
Hy sê Lee-ann het tevergeefs noodhulp toegepas.
De Jager se pa het hom as ‘n ster, modelmens en gelowige beskryf en gesê daar is baie mense wat hom opreg sal mis.
Intussen het vriende op sosiale netwerke laaste groet­boodskappe aan Louwrens gerig waarin hulle hom as die beste pa en man en ‘n ware kind van God beskryf het.
Benewens sy vrou en twee kinders Carmi (23 maande) en Bernich (vier maande) laat hy sy ouers en susters Carla en Solé agter.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button