Local NewsNews

Man glo ontvoer, gemartel en doodgeslaan

Vier verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en moord van ‘n Pakistanse man in die Ntlolane-nedersetting buite Polokwane en sal na verwagting vroeg volgende maand in die Matlala Periodiekehof om borgtog aansoek doen. Ghulum Abbas, ‘n sakeman, se ontbinde lyk is op 18 November deur lede van die polisie se soek- …

Vier verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en moord van ‘n Pakistanse man in die Ntlolane-nedersetting buite Polokwane en sal na verwagting vroeg volgende maand in die Matlala Periodiekehof om borgtog aansoek doen.
Ghulum Abbas, ‘n sakeman, se ontbinde lyk is op 18 November deur lede van die polisie se soek- en reddingseenheid gevind.
Abbas is volgens inligting op 31 Oktober vir die laaste keer gesien waar hy langs die pad net buite Ntlolane by sy voertuig, wat moontlik onklaar geraak het, gestaan het.
Volgens ‘n bron het vyf verdagtes in ‘n wit bakkie by Abbas langs die pad gestop, maar oomblikke daarna weggejaag. Abbas was sedertdien vermis waarna ‘n soektog deur die polisie geloods is.
Abbas is na bewering nie ver van waar sy voertuig onklaar geraak het, die veld ingeneem, vasgebind en gemartel. Hy is glo onder meer met ‘n pypsleutel aangerand. Die verdagtes het glo ook intussen ‘n losprys van Abbas se familie vir sy vrylating geëis.
Die polisie se soek- en reddingseenheid het vier onsuksesvolle soektogte na Abbas van stapel gestuur. Intussen het polisielede slegs die tou waarmee hy vroeër vasgebind is op die plek gekry waar hy gemartel is.
“Ons het dadelik ‘n intense soektog in samewerking met die polisie se lugvleuel en gemeenskapslede geloods en Abbas se lyk ongeveer 2 km verder gevind,” sê die soek- en reddingseenheid se bevelvoerder, Wessie Wessels. Abbas het homself vermoedelik losgewikkel en hulp gaan soek, maar het blykbaar nie direk pad toe gestap vir hulp nie en later aan sy wonde beswyk.
Matlala polisiewoordvoerder, Molapelo Moreane het die voorval bevestig en gesê drie verdagtes is op 13 November aangekeer en ‘n vierde is Maandag gearresteer. “Hulle staar aanklagte van ontvoering, moord en roof in die gesig,” sê Moreane.
Hy kon nie hul name verskaf nie en ook nie bevestig of die aanvallers wel ‘n losprys vir Abbas se vrylating geëis het nie. Verdere arrestasies kan moontlik volg volgens Moreane.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button