Local NewsNews

Engelbrecht skenk 212 eenhede bloed oor vier dekades

“Toe ek besef dat ek bykans 600 mense se lewens gered het, het my oë vol trane geskiet,” vertel die 58-jarige Kobus Engelbrecht wat op 18-jarige ouderdom begin bloed skenk het. Engelbrecht is Vry­dagaand tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) se jaarlikse funksie vereer omdat hy verlede jaar die 200 eenhede-mylpaal bereik het. “Ek het …

“Toe ek besef dat ek bykans 600 mense se lewens gered het, het my oë vol trane geskiet,” vertel die 58-jarige Kobus Engelbrecht wat op 18-jarige ouderdom begin bloed skenk het.
Engelbrecht is Vry­dagaand tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) se jaarlikse funksie vereer omdat hy verlede jaar die 200 eenhede-mylpaal bereik het.
“Ek het op Toit­skraal naby Marble Hall grootgeword. In graad 12 aan Hoërskool Ben Viljoen was daar ‘n kliniekbussie op een van die plase en ek het besluit om vir die eerste keer bloed te skenk. Van toe af het ek nooit weer teruggekyk nie en is bly dat ek soveel mense kon help.”
Tot op datum het hy 212 eenhede geskenk en gee alle eer aan die Here, want sonder Hom en goeie gesondheid sou hy nie in staat gewees het om die mylpaal te bereik nie.
“Ek en my vrou, Aletta skenk gereeld saam. Ons is ‘n span, maar weens ‘n ystertekort is dit vir haar deesdae moeilik om te skenk.”
Engelbrecht het nege jaar gelede na Polokwa­ne verhuis en is baie dankbaar dat sy werkgewer hom altyd toelaat om bloed te skenk. Hy is ook dankbaar dat hy die geleentheid gekry het om die personeel van SANBS Limpopo, wat hom altyd tuis laat voel, te kon ontmoet.
Engelbrecht wat al 40 jaar bloed skenk, doen ‘n beroep op die publiek om mee te help om mense wat bloed nodig het se lewens te help red.

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Foto: Kobus Engelbrecht ontvang sy medalje van Marilda van Wyk, streeksbestuurder-skenkerafdeling van die SANBS.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button