Local NewsNews

Louis Ungerer se heengaan word wyd betreur

“Hy het geglo ‘n mens vloek nie, maar omdat hy so graag kanker wou oorwin, het hy homself een vloekwoord toegelaat – gat – en gesê hy sal kanker se gat skop.” So onthou oudkollega Marietjie du Toit haar jarelange vriendin en plaaslike landdros, Janine Ungerer se seun, Louis (13) wat Sondagoggend oorlede is. Louis …

“Hy het geglo ‘n mens vloek nie, maar omdat hy so graag kanker wou oorwin, het hy homself een vloekwoord toegelaat – gat – en gesê hy sal kanker se gat skop.”
So onthou oudkollega Marietjie du Toit haar jarelange vriendin en plaaslike landdros, Janine Ungerer se seun, Louis (13) wat Sondagoggend oorlede is.
Louis is in Januarie met limfoblastiese leukemie gediagnoseer en het onlangs sy laaste behandeling ontvang, maar het verlede week ‘n infeksie opgedoen en sy liggaam het nie genoeg weerstand na die kankerbehandeling gehad nie.
“Louis was ‘n klein genie. Hy was baie slim en kon pragtig teken. Janine het altyd sy tekeninge teen haar kantoormuur opgesit en ‘n mens kon nie glo dit was ‘n kind se kuns­werke nie. Hy was baie lief vir katte. Louis was ‘n klein grootmens en ontsettend lief vir sy ma,” sê Du Toit.
Sy sê plaaslike prokureur, Andries Rheeder verdien ‘n medalje vir sy onbaatsugtige bystand tot die gesin.
“Rheeder was die vaderfiguur wat Louis die manlike dinge in die lewe geleer het. Hy was sedert Louis se diagnose konstant saam met Janine en Louis om hulle Pretoria toe en terug te vervoer en te onderskraag,” sê Du Toit.
“Louis was ‘n vegter tot die einde en het nooit hoop verloor of moed opgegee nie. Hy het altyd gesê hy sal aanhou veg en sy beste gee. Die Here was alles in sy lewe,” sê Rheeder. Louis se toestand het sedert verlede Maandag begin versleg en hy is Donderdag in Unitas Hospitaal in Pretoria opgeneem.
Sy laaste wens was dat mense nie blomme en kranse moet koop nie, maar eerder ‘n donasie aan Paws for People maak. Dit is ‘n organisasie wat deur middel van honde ondersteuningsterapie aan kinders met kanker bied deur hulle by hospitale en kli­nieke te besoek.
Weens sy siekte was hy vanjaar slegs een dag in graad 7 aan Pietersburg Laerskool waarna hy by die skool inmekaargesak het en sy toestand stelselmatig versleg het. In Junie het die skool geld vir Louis se mediese uitgawes ingesamel wat aan hom en sy ma oorhandig is.
Volgens Rheeder en Du Toit gaan Ungerer deur ‘n moeilike en baie hartseertyd. “Louis was haar alles,” het ‘n ander vriendin gesê.
Suidskoolhoof, Peet Bredenkamp sê as personeel was hulle van dag een af getuies van Janine se besondere liefde, ondersteu­ning en koestering van haar seun.
“Elke geleentheid is aangegryp om seker te maak dat hy die hoogste kwaliteit en standaard onderrig en opvoeding ontvang. Hul lojaliteit, getrouheid en toewyding het van hulle twee bemindes by Suidskool gemaak,” sê Bredenkamp.
‘n Gedenkdiens vir Louis word môre (Vrydag) om 11:00 vanuit die NG Kerk Moe­dergemeente in Biccardstraat gehou. Besigtiging word van 09:00 tot 10:00 by Avbob in Schoemanstraat gehou.
Houers vir donasies aan Paws for People sal na die diens beskikbaar wees.

Foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Foto: Louis Ungerer, voor, saam met ‘n familievriend, Andries Rheeder, sy ma, Janine en skoolhoof, Peet Bredenkamp tydens ‘n geldinsame-­
lingsprojek deur Suidskool-leerders in Junie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button