BusinessNews

Kankerlyers kuier by sirkus

‘n Reeks emosies het op die gesigte van vyf jong kankerlyers van die Tough Living with Cancer (TLC)-saal van die Polokwane Provinsiale Hospitaal gedans tydens hul besoek aan die Brian Boswell Sirkus wat by Mall of the North aangebied word. Die kinders se gesigsuitdrukkings het boekdele gespreek terwyl hulle hul vergaap het aan die hansworse, …

‘n Reeks emosies het op die gesigte van vyf jong kankerlyers van die Tough Living with Cancer (TLC)-saal van die Polokwane Provinsiale Hospitaal gedans tydens hul besoek aan die Brian Boswell Sirkus wat by Mall of the North aangebied word.
Die kinders se gesigsuitdrukkings het boekdele gespreek terwyl hulle hul vergaap het aan die hansworse, akrobate en ‘n verskeidenheid diere. Hulle het veral die perde, kamele en superslim honde se toertjies geniet.
By tye het die jongspan hul oë styf toegedruk wanneer die toertjies te gewaag geraak het, maar hulle gille van plesier en lagbuie was ‘n teken dat hulle hierdie kuier by die sirkus nie gou sal vergeet nie.
Vir al vyf was hierdie uitstappie hul eerste besoek aan ‘n sirkus en hul opgewondenheid was aansteeklik terwyl hulle gewag het dat die vertoning begin. Met hul aankoms het drie narre hulle verras en welkom geheet.
Jimmy die hond het ook kom kennis maak en sommer ‘n paar oulike passies tydens die spesiale ontmoeting uitgehaal.
Bobby Were, Kansa Polokwa-ne se TLC-fasiliteerder sê dat dit baie beplanning gekos het om die uitstappie te reël.
“Gewoonlik het ons mense wat maandeliks na die TLC-saal kom en iets aanbied. Die geleentheid is dus ekstra spesiaal, omdat die jong spruite die kans gekry het om op ‘n uitstappie te gaan.
“Dit was kosbaar om hulle gesiguitdrukkings te sien. Van hulle het selfs vir my vertel dat dit die eerste keer is wat hulle ‘n kameel gesien het,” sê Were.
Were verduidelik dat hulle opgewonde aan hulle maats by die saal van hulle ervaring by die sirkus vertel het, maar dat dit hartseer is omdat 25 pasiënte nie die geleentheid kon meemaak nie, omdat hulle te siek is.
Hy voeg by dat 13 kinders die geleentheid sou bywoon, maar dat net vyf op die dag sterk genoeg was om te gaan.
Were bedank almal wat ‘n bydrae gemaak het om die uitstappie moontlik te maak, veral die bestuur van die Polokwane Provinsiale Hospitaal.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Die meeste kleingoed het vir die eerste keer in hul lewens met ‘n kameel kennis gemaak.
Die meeste kleingoed het vir die eerste keer in hul lewens met ‘n kameel kennis gemaak.
Tebatso Mabusela geniet haar gate uit.
Tebatso Mabusela geniet haar gate uit.
Shawn Khubela, pasiënt van die TLC-saal saam met een van die Boswell Sirkus se slim honde, Jimmy.
Shawn Khubela, pasiënt van die TLC-saal saam met een van die Boswell Sirkus se slim honde, Jimmy.
Jong kankerlyers en beste vriende, Mo-tjatji Modiba en Tebatso Mabusela saam met  Pisolino, The Brown Clown (middel).
Jong kankerlyers en beste vriende, Mo-tjatji Modiba en Tebatso Mabusela saam met Pisolino, The Brown Clown (middel).
Foto’s: Leandri van Schalkwyk Kleingoed, Mmphonyana Seerane, Shawn Khubela en Bohlale Mokepe. Agter staan Benji, The Spanish Clown en Carlo, The White Face Clown.
Foto’s: Leandri van Schalkwyk
Kleingoed, Mmphonyana Seerane, Shawn Khubela en Bohlale Mokepe. Agter staan Benji, The Spanish Clown en Carlo, The White Face Clown.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button