Local NewsNews

Foutiewe toerusting word blameer vir man se dood

“Dit is niks meer as ‘n plek waar mense lê en wag om dood te gaan nie,” sê ‘n ontstoke Natasha Brittz wie se pa, Frans Verster (61) Dinsdagog­gend in die Polokwane Provinsiale Hospitaal oorlede is. Verster, wat ‘n mediese geskiede­nis van bloedklonte in sy been het, is Dinsdagoggend dood; vermoedelik as gevolg van ‘n …

Verster se been het reeds verkleur vermoedelik as gevolg van bloedklonte en sou geamputeer moes word.
Verster se been het reeds verkleur vermoedelik as gevolg van bloedklonte en sou geamputeer moes word.

“Dit is niks meer as ‘n plek waar mense lê en wag om dood te gaan nie,” sê ‘n ontstoke Natasha Brittz wie se pa, Frans Verster (61) Dinsdagog­gend in die Polokwane Provinsiale Hospitaal oorlede is.
Verster, wat ‘n mediese geskiede­nis van bloedklonte in sy been het, is Dinsdagoggend dood; vermoedelik as gevolg van ‘n gebrek aan kommunikasie, swak diens en foutiewe toerusting by die hospitaal.
“My pa is Saterdag opgeneem. Hy is op ‘n stadium na Mankweng Provinsiale Hospitaal geneem om skanderings te doen omdat die toerusting by Polokwane Provinsiale Hospitaal glo buite werking is. Hy is weer teruggestuur omdat die toerusting in Mankweng glo ook nie werk nie,” sê sy.
Volgens Brittz het Verster se been teen daardie tyd reeds verkleur en moes afgesit word, maar dokters het volgens haar glo erken dat hulle nie kan opereer nie omdat toerus-ting in die teater ook buite werking is.
Wat Brittz meer ontstel is dat haar pa om 06:15 Dinsdag oorlede is en na 12:00, toe sy met Polokwane Observer gepraat het, steeds nie na die lykshuis geneem is nie. “Hulle het my pa se lyk ‘n kamer ingestoot en met ‘n duvet toegegooi.”
Sy is ongelukkig omdat daar nie kommunikasie met familielede was nie. “As ons van die begin af ingelig is dat toerusting nie werk nie, kon ons ‘n plan gemaak het om my pa na ‘n ander hospitaal te neem en sou hy dalk vandag nog gelewe het.”
Sy sê die man wat langs haar pa gelê het, het aan hulle bevestig dat hy Verster telkens badkamer moes help. “Verpleegsters reageer nie op noodklokkies nie. Ek het jou pa ook gehelp om iets te kry om te drink,” het die pasiënt glo aan Brittz gesê.
Sy sê ‘n dokter het haar in sy vertroue geneem en gesê verskeie dokters het blykbaar ’n griefskrif aan die departement gestuur oor gevalle van toerusting wat buite werking is.
Departement van gesondheid se woordvoerder, Macks Lesufi het erken dat die hospitaal se MRI-skandeerder nie werk nie, maar het ontken dat daar enige probleme in die teaters is.
“Daar word daagliks geopereer en ons is nie bewus van enige ander foutiewe toerusting nie. Pasiënte wat nie gehelp kan word nie, word na die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria of elders verwys. Ons het ook geen griefskrif van dokters ontvang nie,” sê Lesufi.
‘n Verassingsdiens word more (Vrydag) om 10:00 vir hom vanuit die NG Kerk Moedergemeente in Mokopane gehou.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Frans Verster is Dinsdagoggend in die Polokwane Provinsiale Hospitaal oorlede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button