Local NewsNews

Dobbelary op skoolterrein in klastyd, polisie verwyder leerders

Vier leerders van die Westenburg Sekon­dêre Skool is verlede week deur die polisie van die skoolterrein verwyder nadat hulle skuld erken het oor voorvalle van dobbelary, maar nie ag geslaan het op waarnemende skoolhoof, Jimmy Steele se voorwaardes voordat hulle weer by die skool toegelaat kon word nie. Volgens Steele is die leerders, drie in …

Vier leerders van die Westenburg Sekon­dêre Skool is verlede week deur die polisie van die skoolterrein verwyder nadat hulle skuld erken het oor voorvalle van dobbelary, maar nie ag geslaan het op waarnemende skoolhoof, Jimmy Steele se voorwaardes voordat hulle weer by die skool toegelaat kon word nie.
Volgens Steele is die leerders, drie in graad 10 en een in graad 11, vroeër die maand gevang terwyl hulle op die skoolterrein in onderrigtyd gedobbel het en die korrekte prosedure is gevolg deur vergaderings met die leerders en hul ouers te hou.
“Gedurende konsultasies spreek ons die onwettigheid en gevare van dobbelary aan asook die invloed wat hulle aksies op ander leerders het. Die leerders het ook ‘n finale waarskuwing ontvang,” sê Steele.
Dieselfde leerders is glo later weer op die skoolterrein gevang terwyl hulle gedobbel het, waarna Steele die aanbeveling gemaak het dat die ouers na die departement van onderwys moet gaan om daar te verduidelik waarom hulle skoolreëls keer op keer verontagsaam het.
“Ek het aan ouers gesê dat die leerders weer welkom in die skool sal wees sodra ek skriftelike aanbeveling vir hertoelating met voorwaardes van die departement ontvang het,” sê Steele.
Of die leerders by die departement was, is onduidelik, maar hulle het verlede week glo weer by die skool opgedaag sonder ‘n skriftelike aanbeveling vir hertoelating van die departement.
“Die vier leerders was verlede week terug by die skool, maar het glad nie klasse bygewoon nie en net op die terrein rondgehang.
“Onderwysers het die leerders uitgewys en sodra ek hulle genader het om die perseel te verlaat, het hulle weggehardloop. Dit het my met geen ander keuse gelaat as om die polisie te vra om hulle van die skoolterrein te verwyder nie,” sê Steele.
Volgens Steele dobbel die leerders glo met kaarte en dobbelstene vir geld terwyl hulle klasse ontduik en in die badkamers en elders op die terrein dobbel.
“Leerders moet finale waarskuwings respekteer en besef watter invloed hulle aksies op ander leerders het en dat die departement gedeeltelik verantwoordelikheid in sulke gevalle moet dra.
“Die skool het ‘n verantwoordelikheid teenoor die res van die skool om hulle nie aan sulke aktiwiteite bloot te stel nie,” sê Steele.
Die departement se kommunikasiehoof, Naledzani Rasila was nie bewus van die voorval nie, maar sê dit kan moontlik wees. “Dobbelary is taboe by skole. Dit klink of Steele die situasie onder beheer het en goed hanteer. Ons waardeer dit as skoolhoofde probleme aanspreek en oplossings vind,” sê Rasila.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button