Local NewsNews

Besige naweek vir polisie met 10 sterftes op paaie, wapenvonds

Limpopo se paaie was die naweek ‘n slagveld met tien mense wat van Vrydag tot Sondag in 32 botsings gesterf het. Die N1 het vier lewens geëis in twee afsonderlike ongelukke naby Ysterberg en Musina. Departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling se woordvoerder vir verkeer, Kagiso Mootane, sê swaar reën en spoed kan hoofsaaklik …

Limpopo se paaie was die naweek ‘n slagveld met tien mense wat van Vrydag tot Sondag in 32 botsings gesterf het.
Die N1 het vier lewens geëis in twee afsonderlike ongelukke naby Ysterberg en Musina. Departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling se woordvoerder vir verkeer, Kagiso Mootane, sê swaar reën en spoed kan hoofsaaklik as oorsake van meeste botsings toegeskryf word.
“Op verskeie botsingstonele is dit duidelik dat spoed ‘n groot rol gespeel het. Daarmee saam het reën veroorsaak dat moto-riste beheer oor hul voertuie in nat padtoestande verloor en botsings veroorsaak het,” sê sy. Mootane sê die syfers is aansienlik laer as verlede jaar waar daar gedurende dieselfde tyd 50 ongelukke met 21 sterftes aangemeld is.
Westenburg polisiewoordvoerder, Mohlaka Mashiane het bevestig dat vier mense oor die naweek vir dronkbestuur gearresteer is.
‘n Man in ‘n Volkswagen Jetta met ‘n Gauteng-registrasienommer is Saterdagoggend dood toe die voertuig die pad om die draai in Thabo Mbekistraat verlaat en teen ‘n boom gebots het. Ooggetuies beweer die bestuurder het teen ‘n hoë snelheid in die eenrigstraat gejaag voordat hy beheer oor sy voertuig verloor het.
Ongeveer vyf minute voor die botsing het ‘n ander voertuig op byna dieselfde plek, net skuins oorkant die pad, deur ‘n stapel stene geploeg en aan die regterkant van Thabo Mbekistraat tot stilstand gekom. Niemand is egter beseer nie en die twee voorvalle hou nie met mekaar verband nie.Marius Jardim was Saterdagaand omstreeks 11:00 op pad na sy huis in Peninapark toe hy deur die kruising van Dorp- en Jorissenstraat gery het, waar die verkeerslig vir hom groen was.
“Ek weet nie wat volgende gebeur het nie, maar het langs my silwer Volkswagen Polo wakker geword. Ek is volgens ‘n ooggetuie op die toneel uit my voertuig geslinger toe die bestuurder van ‘n blou Polo glo die rooi verkeerslig verontagsaam het en my motor met impak aan die linkervoor-kant getref het,” vertel hy.
Die bestuurder van die blou Polo het in die ongeluk omgekom en was in Jorissenstraat in die rigting van die sentrale sakegebied onderweg toe die botsing plaasgevind het.
Jardim het nek-, rug- en armbeserings sowel as ligte kopbeserings opgedoen en van sy ribbes is gekraak, maar sê as dit nie vir sy voertuig se lugsakke was wat ontplooi het nie, sou hy waarskynlik nie die ongeluk oorleef het nie.
In die vroeër oggendure Sondag is ‘n voertuig by BB Used Polokwane op die hoek van Rissik- en Landdros Maréstraat beskadig toe ‘n motor vermoedelik beheer verloor het en teen die stilstaande voertuig tot stilstand gekom het. Intussen het die polisie in Westenburg in aanloop tot die naweek ‘n wapenvonds by ‘n huis in Nirvana gemaak. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto het die polisie inligting van moontlike wapens wat in ‘n vertrek toegesluit is, ontvang.
“Die polisie het op drie AK 47-aanvalsgewere, vier magasyne en 345 rondtes ammunisie afgekom. Verder is ‘n R1-aanvalsgeweer met twee magasyne en 1 038 rondtes gevind saam met ‘n verdere 47 900 rondtes 9 mm ammunisie en 69 rondtes .38 Special rondtes,” sê Otto. ‘n Masjien wat gebruik word om ammunisie te herlaai, koeëlvastebaadjie en verskeie pakkies met wit poeier is ook gekonfiskeer.
“Forensiese toetse word tans gedoen om te bepaal of die poeier dwelms is. Ballistiese toetse word gedoen om vas te stel of die vuurwapens in onlangse misdrywe gebruik is,” sê Otto. Die ondersoek duur voort.

Stori: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Die wrak van die Volkswagen Polo waarin die bestuurder Saterdagaand dood is.
Die wrak van die Volkswagen Polo waarin die bestuurder Saterdagaand dood is.
Lede van die polisie sorteer duisende ammunisie wat in Nirvana gevind is.
Lede van die polisie sorteer duisende ammunisie wat in Nirvana gevind is.
Drie AK47- en een R1-aanvalsgewere is in ‘n huis in Nirvana gevind.
Drie AK47- en een R1-aanvalsgewere is in ‘n huis in Nirvana gevind.
‘n Voertuig wat tydens ‘n ongeluk vroeg Sondagoggend by BB Used Polokwane beskadig is.
‘n Voertuig wat tydens ‘n ongeluk vroeg Sondagoggend by BB Used Polokwane beskadig is.

Related Articles

Back to top button