NewsSchools

Glo die glas is halfvol en bid baie – Theuns Eloff

Suid-Afrikaners moet perspektief behou en aanhou glo dat die glas halfvol is. Dit was die slotparagraaf van Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit en tans voorsitter van die Dagbreekfonds, Astral Foods asook die FW de Klerk Stigting se voordrag Woensdag by die jaarlikse Frederik Van Zyl Slabbert Gedenkle-sing by Hoërskool Pietersburg (PHS). Eloff het …

Suid-Afrikaners moet perspektief behou en aanhou glo dat die glas halfvol is. Dit was die slotparagraaf van Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit en tans voorsitter van die Dagbreekfonds, Astral Foods asook die FW de Klerk Stigting se voordrag Woensdag by die jaarlikse Frederik Van Zyl Slabbert Gedenkle-sing by Hoërskool Pietersburg (PHS).
Eloff het ‘n vol saal toegespreek oor die onderwerp,‘21 Jaar van Demokrasie Oppad na 2016’. Hy het die land se omstandighede ontleed aan die hand van bates en laste soos hy dit sien.
Suid-Afrika se bates
As bates het Eloff genoem dat die oorgang na demokrasie in die land die mees suksesvolle oorgang was. Aanvanklik is politieke stabiliteit behou en het demokratiese groei plaasgevind met ‘n grondwet wat deur die meerderheid gerespekteer word. ‘n Verdere bate is sterk burgerlike samelewingsorganisasies en ‘n parlement wat steeds’n oorsigrol speel.
Die laste, volgens hom, is die wanorde in die ANC en alliansievennote as meerderheidsparty, die misbruik van mag in parlementêre komitees en op plaaslike owerheidsvlak, die lae kapasiteit van die staatsdiens om sekere goeie beleide toe te pas, groeiende kritiek teen die Grondwet en voorkeur aan die ANC se Vryheidsmanifes.
Op die ekonomiese front
Op ekonomiese vlak meen hy goeie fiskale en monetêre beleid is aanvanklik toegepas, maar in 2009 het die ekonomiese afswaai begin en werkgeleenthede het begin krimp. Die konsep van ‘n ontwikkelingstaat was in beginsel goed, maar daar is ‘n gebrek aan tegniese kapasiteit. Infrastruktuurontwikkeling vorder nie soos beplan nie.
Ekonomies laste sluit armoede, werkloosheid en ongelykheid, ‘n te groot gaping tussen ryk en arm, rigiede arbeidswetgewing en die vakbonde se greep op die regering, groeiende staatsuitgawes en die groot getal mense wat deur so min belastingbetalers onderhou moet word, in.
Aanval op eiendomsreg
Een van die grootste gevare wat Eloff uitgelig het, is die toenemende tekens van die aanvalle op eiendomsreg, gekoppel aan grondhervorming.
Hy het daarop gewys dat wetgewing reeds in plek is en dat rigiede onteiening van eiendom, veral grond en besighede, ‘n realiteit is wat waarskynlik die grootste bedreiging vir toekomstige stabiliteit is.
Sosiaal-ekonomiese front
Op sosiaal-ekonomiese en kulturele gebied meen hy daar is wel goeie stories wat vertel kan word, soos dat meer mense elektrisiteit het, maar dat daar net nie genoeg elektrisiteit opgewek kan word om aan almal te voorsien nie. Infrastruktuurprojekte het tot in 2010 ‘n goeie effek gehad en sosiale toelaes het armoede verlig. Daar is steeds goeie menseverhoudings op grondvlak.
Daarenteen is Eskom een van die laste en water en riolering, asook paaie gaan agteruit. Plaaslike owerhede en basiese dienste beleef ook ‘n afwaartse swaai. Basiese onderwys, gesondheidsdienste, veiligheid en sekuriteit, grondhervorming, misdaad, korrupsie en gebrek aan versoening en groeiende rassepolarisasie gee rede tot kommer.
Wat het verkeerd gegaan?
Op ‘n vraag wat verkeerd gegaan het sê Eloff daar is goeie beleid in plek, maar dit word nie uitgevoer nie. Hy meen die kompleksiteit van uitdagings is onderskat. Die regering weet wat moet gedoen word, maar prioriteite word nie aangespreek nie weens gebrek aan kapasiteit en ervare staatsamptenare, wat hy toeskryf aan mislukte en skewe kaderontplooiing, regstellende aksie en transformasie wat oor ras skeefgetrek word.
Die kultuur van toeëiening is ook ‘n pro-bleem. Ideologiese verskille, die invloed van die SAKP op beleidsvlak en die Mangaung-besluit om die tweede radikale fase van die oorgang na sosialisme toe te pas is ook bekommerenswaardig.
Wat kan burgers doen?
Eloff meen daar is wel dinge wat burgers kan doen om die saak te beredder, soos om in die land aan te bly en aan Suid-Afrika toegewyd te wees. Mense kan hul eie taal- en kultuur-gemeenskappe bou, aan goeie interpersoonlike verhoudings werk, werk skep deur besighede te begin wat niks met die staat te doen het nie, hul Christelike plig teenoor alle Suid-Afrikaners nakom, diensbaar wees en bid, het hy voorgestel.

NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button