Local NewsNews

Hare waai na jare se groei by Kansa-basaar

Amor Piek (19) het Saterdag oë laat rek en bewondering afgedwing toe sy haar lang, dik vlegsel laat knip het en daarna haar kop kaal laat skeer het. Die onverskrokke jong vrou het laggend vertel dat sy nou nie ‘n bang haar op haar kop het nie nadat sy haar vlegsel van 64 cm aan …

Adri Ras, areabestuurder van Kansa Polo­kwane, skeer Amor Piek se hare af.
Adri Ras, areabestuurder van Kansa Polo­kwane, skeer Amor Piek se hare af.

Amor Piek (19) het Saterdag oë laat rek en bewondering afgedwing toe sy haar lang, dik vlegsel laat knip het en daarna haar kop kaal laat skeer het.
Die onverskrokke jong vrou het laggend vertel dat sy nou nie ‘n bang haar op haar kop het nie nadat sy haar vlegsel van 64 cm aan Kansa geskenk het.
Piek het haar hare ter ere van haar oupa, Johan Prinsloo wat die stryd teen kanker verloor het, en haar niggie, Leandrie Faul wat twee jaar gelede in haar graad 12-jaar met kanker gediagnoseer is, afgeskeer nadat sy sewe jaar lank nie ‘n skêr naby haar lokke toegelaat het nie.
“My niggie het al haar hare verloor weens die kankerbehandeling en sy moes haar matriekafskeid met ‘n kaal kop bywoon. Ek was in graad 11 en het toe al besluit om my hare te laat skeer,” vertel sy.
Haar plan was aanvanklik om haar hare net na haar eie matriekafskeid te laat waai, maar sy het uiteindelik nog ‘n jaar gewag voordat sy die groot stap geneem het.
Corné Marais, Kansa Polokwane se kantoorbestuurder, sê dat hulle ongelooflik dankbaar en trots is op Piek wat die dapper besluit geneem het sodat iemand ‘n pruik kan kry. Piek se dit is bevredigend om te weet sy kon iemand wat aan kanker ly, help.
“Ek moet nog aan my nuwe voorkoms gewoond raak, maar dit is beslis die moeite werd.”

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button