Local NewsNews

Plaaslike sterrekundige val groot eer te beurt

Vir eeue lank staar die mens al na die hemelruim met meer vrae as antwoorde oor wat die uitspansel alles behels. Magda Brits-Streicher het dit haar lewenstaak gemaak om hierdie vrae te beantwoord en om verder as net die naaste ster te kyk. Brits-Streicher het verlede week teruggekeer van ‘n Europese reis waar sy onder …

Vir eeue lank staar die mens al na die hemelruim met meer vrae as antwoorde oor wat die uitspansel alles behels. Magda Brits-Streicher het dit haar lewenstaak gemaak om hierdie vrae te beantwoord en om verder as net die naaste ster te kyk.
Brits-Streicher het verlede week teruggekeer van ‘n Europese reis waar sy onder andere ‘n lesing by die algemene jaarvergadering van die Webb Deep Sky Society, waar sy een van net vyf sprekers was, aangebied het. Dié vereniging bestaan uit sterrekundiges wat saamwerk om ‘n voortdurende opgedateerde spieëlbeeld van die heelal te skep. “Ek het die suidelike halfrond se sterrebeelde behandel en die mense het soveel vrae gehad. Ek skryf hul entoesiasme toe aan die skoonheid van die suidelike naghemel.”
Brits-Streicher het ook ‘n boek, ‘Astronomy Delights’, geskryf waarin sy die Suid-Afrikaanse naghemel omskryf en met sketse en foto’s illustreer.
Sy kyk deesdae uitsluitlik na die diepruim, die verste punte van die heelal, en omskryf dit wat sy sien sodat internasionale liggame soos Nasa hul databasisse kan opdateer. Sy het oor die jare ook haar sketse van hierdie stelsels vervolmaak en sal binnekort ‘n tweede boek met hierdie sketse in publiseer.
“Mens moet baie akkuraat wees oor waar die voorwerp geleë is en hoe dit lyk. Akkuraatheid is krities belangrik, want sterrekunde is ‘n baie ingewikkelde wetenskap. Mense moet weet waarna hulle kyk en ook waar om te kyk.”
Sy vertel ook dat sy die afgelope 15 jaar lank 164 dubbelsterre monitor.
“Die sterre is soveel ligjare van die aarde af dat ek in 15 jaar slegs vier veranderinge kon waarneem. Dit neem die lig van hierdie diepruim-voorwerpe so lank om ons te bereik, dat dit ‘n lewenstaak is om dit te notuleer.”
Dit is vir haar belangrik om die heelal waar te neem soos wat dit is. “Ek wil nie na ‘n foto kyk nie. Ek wil self sien wat aangaan.”
Haar werk is so waardevol dat die Kaapse astronoom, Auke Slotegraaf, haar gevra het om haar lewenswerk aan hom te bemaak sodat dit behoue kan bly.
Aangesien sy snags in haar spesiaal-geïnstalleerde sterrekamer aan haar waarnemings werk, is Brits-Streicher bedags ‘n betrokke ouma vir Chanté Liebenberg (13) en Kirstein le Roux (8). Beide kleinkinders het ook ‘n lewendige belangstelling in sterrekunde en ouma is maar te bly om hierdie vuurtjie aan te wakker.
“Ek het my eerste klein teleskopie vir Chanté gegee en sy kyk graag na die maan daarmee. Kirstein kom klop graag saans hier aan en vra ek moet Saturnus vir hom wys. Hy weet ook al van sterrebondels en sterrebeelde,” vertel sy trots. Die toekoms van sterrekunde is beslis in veilige hande.

Storie: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button