Yuandré van Zyl gooi nou frisbee vir Protea-span

RC Myburgh Vir sommige mense is frisbee-speel ‘n prettige manier om tyd op die strand of langs die swembad deur te bring, maar vir Yuandré van Zyl, ‘n onderwysstudent by Laerskool Pietersburg-Oos is dit ‘n kompeterende sport waarin sy uitblink. Van Zyl is in April tydens die nasionale kampioenskappe in Bloemfontein tot die o.23-Proteaspan verkies …

RC Myburgh
Vir sommige mense is frisbee-speel ‘n prettige manier om tyd op die strand of langs die swembad deur te bring, maar vir Yuandré van Zyl, ‘n onderwysstudent by Laerskool Pietersburg-Oos is dit ‘n kompeterende sport waarin sy uitblink.
Van Zyl is in April tydens die nasionale kampioenskappe in Bloemfontein tot die o.23-Proteaspan verkies wat van 12 tot 18 Julie in Londen, Engeland aan die World Flying Disc Federation (WFDF) se World u.23 Ultimate Championships gaan deelneem.
“Ek is ongelooflik trots op my prestasie, maar moet erken ek is nogal gespanne omdat ons nie weet wat om by die kampioenskappe te verwag nie. Frisbee is in ander lande ‘n bekende sportsoort wat goed ondersteun word. In Suid-Afrika is net enkele spanne waarvan die meerderheid in die Kaap geleë is,” sê Van Zyl.
Ongeveer drie jaar gelede het die 21-jarige Van Zyl Potchefstroom vir Polokwane verruil en as studente-onderwyser by Oosskool aangesluit.
“’n Vriend by die kerk het my genooi om saam met hulle by die plaaslike frisbee-klub, Polokwane Ultimate, te speel. Die gogga het my dadelik gebyt en ek het in Februarie 2013 hard begin oefen om al die tegniese aspekte van die sport so gou moontlik onder die knie te kry,” sê Van Zyl.
Sy sê sy is kompeterend van geaardheid en dat die hoeveelheid fiksheid en tegniek wat met frisbee gepaard gaan reg in haar kraal is.
“Almal weet hoe lyk ‘n frisbee wat nie korrek gegooi word nie; dit ‘wiebel’ deur die lug en trek in enige rigting. Om die tegniek te bemeester sodat ‘n frisbee met die korrekte hoek jou hand verlaat om die perfekte gooi te verseker, was die grootste uitdaging.
“Fiksheid speel ook ‘n belangrike rol omdat die baan ongeveer die grootte van ‘n rugbyveld is met slegs sewe spelers in ‘n span. ‘n Goeie speler moet ook uitstekende hand-oog-koördinasie hê,” sê Van Zyl.
Sy sê weersomstandighede soos die wind moet ook gedurig tydens wedstryde in ag geneem word.
Volgens haar kan dit amper met Amerikaanse voetbal vergelyk word. Die frisbee moet deur ‘n spanmaat in die doelgebied gevang word waarvoor hy dan ‘n punt kry. Sodra jy die frisbee laat val, kry die ander span ‘n beurt om met die spel voort te gaan. Van Zyl het op skool reeds in sport uitgeblink en het in haar matriekjaar Suid-Afrikaanse kleure in netbal verwerf. Sy was ook ‘n kranige atleet en het in hoogspring, 100 m- en 400 m-hekkies uitgeblink.
Benewens haar onder-wysstudies, is Van Zyl ook besig om ‘n diploma in fiksheid te voltooi.
Van Zyl is die enigste speler van Limpopo, met die meerderheid van die Kaap, wat die Proteaspan gehaal het. Dus word oefeninge in die Kaap aangebied wat veroorsaak dat sy duisende rand moet opdok om oefenkampe by te woon.
“Aan die einde van Junie woon ons ‘n laaste oefenkamp by voordat ons na Londen vertrek. Dit kos ongelooflik baie geld om tussen die Kaap en Limpopo te reis. Dan moet ek nog intussen vir die wêreldkampioenskappe ook geld bymekaarmaak,” sê Van Zyl.
Persone wat belangstel om haar te borg, kan Van Zyl persoonlik by 072 564 5664 skakel.

Related Articles

Back to top button