Local NewsNews

Kunsterapie bevry jou van al jou sorge

Almal het een of ander uitlaatklep wat hulle gebruik in tye van kommer en probleme. Maryna Schreuder verduidelik wat tydens haar kunsterapie sessies gebeur, en hoe dit jou kan help.

POLOKWANE – Almal het een of ander uitlaatklep wat hulle gebruik in tye van kommer en probleme. Kuns is een manier om emosionele trauma en ander probleme te verwerk. Berader en kunstenaar, Maryna Schreuder, vertel hoe sy mense help met haar genesende kuns.

“Die ideaal is om een sessie ‘n week by te woon, maar wanneer daar nie genoeg fondse beskikbaar is nie kan die kliënt my elke twee weke kom sien. Soms kry die kliënt huiswerk. Genesing vind nie plaas by ‘n sessie nie, maar wel wanneer hulle dit wat hulle geleer het toepas in die lewe,” sê sy.

Tydens die eerste sessie vra sy baie vrae en luister aandagtig, wat soms drie ure kan neem, maar die opvolgende sessies is korter.

“Ek neem die eerste sessie se inligting en ontleed dit. Ek maak ‘n lys van die verskillende emosies waar genesing en verandering benodig word. In die tweede sessie maak ek seker dat ek reg ontleed het, deur nog vrae te vra en aan die lys te skaaf. Dan teken ons die eerste prent waar ons die emosies waarop ons gaan fokus aandui, asook die woorde van hoop en waarheid. Ons werk aan die kliënt se selfbeeld en verhoudings. Ons soek na die wortel van die kwaad in plaas van om die simptome te dokter.”

Maryna maak seker dat die persoon regtig wil groei en wat hulle graag sou wou verander. Verder kyk sy na hul verwysingsraamwerk, menseverhoudings en gebeure in hul verlede. Eiewaarde is een van die eerste dinge wat sy en die kliënt aanspreek deur die kliënt ‘n prent wat hulself voorstel te laat teken.

“Dit word altyd gedoen, hulle moet iets inteken wat eiewaarde voor stel. Die kleure word self deur die kliënt gekies en verskeie kuns mediums word gebruik. Ek glo in die regte agtergrondmusiek, en soms skryf die persoon gedigte wat saam met die prente in ‘n leêr geplaas word.”

Voordele van genesende kuns:

  • • Dit verbeter jou eiewaarde en selfbeeld.
  • • Jou menseverhoudings verbeter.
  • • Jy kry hoop vir die toekoms.
  • • Dit kan jou bevry van verslawings.
  • • Dit kan jou bevry van jou verlede wat jou terug hou.

Lees meer van Maryna in die week se Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button