Local NewsNews

Mokopane ouers maak harte oop na seun se skielike afsterwe

Ricardo Bornman (14) is doodgeskok toe 'n leer waaraan hy vasgehou het, met kragdrade in aanraking gekom het. 

MOKOPANE – Die gemeenskap is verlede Saterdagmiddag tot stilstand geruk met die dood van Ricardo Bornman, ‘n 14-jarige leerder van Edu-Cor.

Ricardo is doodgeskok toe ‘n leer waaraan hy vasgehou het, met kragdrade in aanraking gekom het.

Sy ouers, Juan en Liza Kruger, het Woensdagoggend met Bosveld gesels. Juan vertel hulle sukkel nog om Ricardo se dood te aanvaar, aangesien dit so onverwags en skielik was. Ricardo is een van ‘n tweeling.

Juan sê Ricardo was sy regterhand en beide hy en sy broer, Leandro, het graag by hom geleer. Die gesin woon tans op die Uitkykhoewes en die eienaar het vir Juan, wat ‘n verkoelingstegnikus is, gevra om ‘n watervlakskakelaar op die tenk te vervang.

Die watertenk is hoog en sowat drie meter vanaf die oorhoofse Eskom kabels wat tussen 6 000 en 11 000 volt dra. “Gewone huiskrag dra sowat 400 plus volt,” verduidelik Juan. Ricardo het hom bygestaan. Hulle het die 6 m aluminium uitskuifleer teen die tenkstand gelos en eers ‘n probleem by die hekmotor gaan herstel. Juan sê hy het voor die huis stilgehou om solank plek op die bakkie te maak waar die leer wat hulle gebruik het, gemonteer sou moes word. Hy het Ricardo gevra om die leer by die tenk te gaan haal en hom gemaan om versigtig te wees aangesien dit baie swaar is. “Ricardo het ‘n bietjie lank gedraai. Ek was besig om agter op die bakkie plek te maak. Ek het omgedraai om te kyk waar hy is en net rook gesien. Ek het bo-oor die muur gespring en binne sekondes by hom gekniel. Die gras om hom het aan die brand geslaan van die impak wat die leer met die kragdrade gehad het. Die leer het half bo-oor Ricardo te lande gekom.” Die egpaar is nie seker of Ricardo se voet gegly het teen die skuinste van die dam wat reg langs die tenk is en of hy sy balans verloor het nie. Juan sê hy het Ricardo onmiddellik onder die leer uitgetrek en weg van die vuur af om te probeer om hom by the bring.

“Hy het gesnak na sy asem en ek en my vrou het onmiddellik met hom na die Voortrekker Hospitaal gejaag.” Liza het agter in die motor oppad na die hospitaal by Ricardo gesit. “Terwyl ons gery het, het Jesus hom kom haal. Ek kon die kans kry om vir hom te sê ons is baie lief vir hom en hom behoorlik groet,” het ‘n emosionele Liza vertel.

Sy sê Leandro was die betrokke dag saam met sy onderwyser Polokwane toe en hulle het wel die geleentheid gehad om die dag saam met Ricardo deur te bring, minwetend wat voorlê.

Tot voor die Covid-19 pandemie het Ricardo en sy tweelingbroer nog skool gegaan by Mokopane Primary School waar hy verlede jaar die onderhoofseun was. Die pandemie het Liza aangevuur om tuisonderrig te oorweeg, maar die seuns se gemis aan interaksie met maats het die ouerpaar laat besluit om hulle by Edu-Cor in te skryf. Juan en Lize beskryf Ricardo as ‘n borrelende ekstrovert, wat geliefd was onder oud en jonk.

“Hy het voluit geleef en almal laat lag met sy skerp sin vir humor. Hy was baie behulpsaam, het aan alles moontlik deelgeneem en was ‘n groot sokkeraanhanger.”

Ricardo was Vrydag, 7 Mei, om 14:00 te ruste gelê in die Mokopane Begraafplaas.

bosjournalist@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button