Local NewsNews

HIEB maak huis van hoop in stad oop

Hulp in Elke Behoefte (Hieb) is 'n organisasie sonder winsbejag wat 'n groot verskil maak in die lewens van die stad se inwoners wat finansieel sukkel.

POLOKWANE – Hulp in Elke Behoefte (Hieb) is ‘n organisasie sonder winsbejag wat ‘n groot verskil maak in die lewens van die stad se inwoners wat finansieel sukkel.

Hieb help veral mense wat sonder heenkome sit deur laekostebehuising; met elektrisiteit, water, kos en klere ingesluit indien nodig.

Hierdie behuisingskema is in Dalmada geleë en heet Plek van Hoop.

Onlangs het Hieb ‘n Huis van Hoop tot stand gebring.

Huis van Hoop is ‘n werkskeppingsprojek waar die inwoners van Plek van Hoop asook mense wat gehelp word deur Hieb se Kos Bring Hoop-projek kan inspring en help met Hieb se liefdadigheidsaktiwiteite.

“Voordat ons mense sommer net help, stel ons eers ondersoek in. Mense moet hulself wil help,” vertel Johan van den Berg ‘n lid van die Hieb-direksie.

Hy verduidelik dat Hieb vanuit Huis van Hoop, op die hoek van Voortrekker- en Rissikstraat, sal funksioneer.

Hier sal kospakkies opgemaak en uitgedeel word asook tweedehandse klere herstel en aan die publiek verkoop word.

“Werkskeppingsprojekte het reeds die afgelope bykans twee en ‘n half maande groot vrug hier gedra. Dit is wonderlik om daagliks mense se ywer hier te sien. Dit stel doelwitte vir die mense wat hier werk en gee hul ‘n rede om elke dag aan te pak.”

Vir die toekoms beplan Hieb om nog projekte te begin soos om koeksisters te bak.

“Ons wil die mense van Plek van Hoop help om hul vaardighede in te span om iets te doen en sodoende hul plek in die samelewing in te neem en weer hul menswaardigheid te herwin. Later wil ons inwoners van die ouetehuise kry om hulle kennis en vaardighede met ons te kom deel,” sê Johan

Insien inwoners betrokke wil raak by hierdie projek, kan hulle vir Johan skakel by (015) 297 3557.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button