Local NewsNews

Tella Diemont word onthou: ‘Rus sag ons vriend’

Tella Diemont was nie net 'n groot gees in die stad nie, maar het 'n indruk gelos op ieder en elkeen wat sy pad gekruis het.

POLOKWANE –  Tella Diemont is Maandag, 18 Januarie skielik oorlede. Sy vrou, Roukie, vertel hy is Sondag in Limpopo Mediclinic opgeneem met trombose en nierversaking.

Sedertien het talle huldeblyke ingestroom. 

Sy goeie vriende en vennote, Hennie le Roux en Fanus de Beer onthou hom as onbaatsugtig en ‘n briljante rekenmeester.

“Toe ek Maandagoggend, 18 Januarie, die slegte nuus verneem dat Tella nie meer met ons is nie, was my eerste herinnering van hom sy onbaatsugtigheid om sy medemens te help. Ek onthou soveel geleenthede waar Tella sonder aarseling kostes en moeite sou aangaan om iemand te help, sonder om iets terug te verwag. Daar is verskeie mense, insluitende ons as vennote, wat vandag net dankie kan sê vir Tella, wat iewers langs die pad ‘n helpende hand uitgesteek het. Dikwels voordat hy nog gevra kon word. Saam met Roukie het hulle menigmaal hulle huis oopgestel vir iemand wat dit nodig gehad het. Sy vriendelike geaardheid was so opreg en hy het vir menigte ligte oomblikke gesorg met kwinkslae wat eie was aan hom,” onthou Hennie.

Fanus voeg by as vennote in die destydse firma van Du Rand, Louw en Botha en later KPMG, het Tella homself onderskei as ‘n briljante rekenmeester wat sy professie gedien het met die hoogste mate van professionele integriteit.

“Danksy hierdie positiewe eienskappe het Tella baie vinnig opgang gemaak as lid van verskeie komitees in ons professie se beheerliggame; onder andere as vise-president van die destydse Transvaalse Genootskap van Geoktooieerde Rekenmeesters. Hy was ‘n goeie leier en was uiters gewild onder al sy kliënte en kollegas. Tella het onverbiddelik geglo in regverdigheid teenoor almal en het nie geskroom om op te staan ter verdediging van iemand anders se saak indien hy gevoel het dat geregtigheid nie geskied nie.”

Hulle onthou dat Tella se uitkyk op die lewe vrolik en positief was en by sosiale geleenthede het hy en Roukie hulle beïndruk met hulle danspassies en opgewekte gees.

“Ons as voormalige vennote, sal Tella altyd onthou vir die groot bydrae wat hy gemaak het tot die sukses van ons firma. Alhoewel hy later die firma verlaat het om sy eie firma te stig, het ons vriendskapsbande net so sterk gebly omdat dit so aangename voorreg was om Tella Diemont ons vriend en vennoot te noem. Tella, ons gaan jou baie mis en dankie vir alles. Rus sag ons vriend.”

Yvette Chandler vertel Tella was een van haar top 10 mense wat sy ken. “Niks lekkerder as Oom se harde drukkies opgevolg met ‘n lekker soen nie. Ek het altyd uitgesien om Oom te sien van die kersmark tot by ander begrafnisse. Ek sal nooit ons rit na Durban vir my pa se troue vergeet nie. Dit was die lekkerste vakansie ooit. Ek is seker Oom en Morné praat mekaar se ore seer. Soveel herinneringe: My hart is stukkend en seer, maar rus sag my Oom. I’m jealous of the angels tonight.”

Lizelle Erasmus skryf “’n Groot boom het vandag geval. Vandat ek gekwalifiseer het in 1997, het jy in my geglo, al was ek op daardie stadium die enigste vrou in ons beroep in Polokwane. Jy was ‘n ware “gentleman”: Altyd bekommerd oor my in die mans geselskap en het ‘n hele paar keer gevra hoe hou ek dit met hulle. Ons het lekker gelag vir ons kollegas se sê-dinge. Jy het my baie geleer van die professie, van mens wees en van die lewe voluit geniet. Op Saica komitee en konferensie het ons almal baie saam gelag en laat aande oor ‘n glasie wyn gekuier. Jy het my baie geleer van ons professie en dat mekaar moet ondersteun en mekaar moet leer. Ek het altyd ‘n spesiale plek in my hart vir jou gehad en groot respek vir die mens wat jy was. Ek weet die laaste paar jaar was baie moeilik vir jou, en ons gun jou die rus en blye weersiens van Morné. Tot ons mekaar weer sien, my vriend! Geniet Morné se geselskap!”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button