Local NewsNewsUpdate

Sy glimlag sal hul bybly

Wiam Page (18) is die derde gr. 12-leerder van Tom Naudé wat vanjaar in 'n motorfietsongeluk gesterf het.

Vanjaar se matriekafskeid by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé Vrydag was nie heeltemal die vrolike makietie waarna die gr. 12-leerders maande lank uitgesien het nie.

 

Die dood van een van hul maats Donderdag, die dag voor die afskeid, het ‘n demper op hierdie aand geplaas en die gr. 12’s moes telkens sluk aan die knoppe in hul kele tydens die verrigtinge.

Wiam Page (18) is die derde gr. 12-leerder van Tom Naudé wat vanjaar in ‘n motorfietsongeluk gesterf het.

JJ van Rooyen is in Julie oorlede en Tommy Dorey het in Junie gesterf, beide in motorfietsongelukke.

Volgens ooggetuies het Wiam Donderdag in Genl. Viljoenstraat agter ‘n voertuig gery, wat skielik voor ‘n spoedwal spoed verminder het. Om ‘n botsing te vermy, het Wiam om die voertuig gery, maar teen ‘n ander voertuig, wat besig was om by die parkeerarea van die Welgelegen Winkelsentrum uit te draai, gebots.

Wiam het volgens sy pa, Willie, op die ongelukstoneel aan sy beserings gesterf.

Wiam was bekend onder sy maats as ‘n staatmaker en hy het dikwels by skoolfunksies die klank behartig.

Departementshoof Paul de Bruin, het hom beskryf as ‘n pragtige seun wat nooit sou skroom om sy medemens te help nie. De Bruin het gesê Wiam se afwesigheid was byna fisies tasbaar tydens die skool se matriekafskeid.

“Dit voel nie werklik nie. Ons almal wag nog om hom te sien opdaag en om ‘n grappie of twee te maak. Wiam kan nie net weg wees nie, nooit weer opdaag nie,” het een van sy maats tydens die matriekafskeid gesê.

Van die leerders soos Christo Botes en Rechelle Niewenhuiys het selfs by hul aankoms ballonne met boodskappies aan Wiam saamgebring om te wys dat hy nie vergete was op dié aand nie.

Hulle het ook van die ballonne die lug in laat gaan ter nagedagtenis aan hom.

Wiam word oorleef deur sy pa Willie en ma Renet.

Willie het aan Review gesê die familie wil aan almal wat hulle gehelp het, van die ongelukstoneel tot by die huis, baie dankie sê.

“Daar is soveel mense om voor dankie te sê dat mens nie name kan noem nie, maar aan elkeen wat die kleinste bietjie bystand gelewer het wil ons uit ons harte baie baie dankie sê.” het hy gesê.

Willie het vertel dat Wiam altyd geglimlag het.

“Hy was die vriendelikste kind wat jy ooit geken het en ek sal nooit weer daardie pragtige glimlag sien nie. Dit breek my hart. Almal was so lief vir hom en daar is soveel mooi om te onthou. Ons sal nooit ophou om hom te mis nie.”

Wiam sal Vrydag om 11:00 vanuit die Goeie Nuus Aanbiddingsentrum net buite die stad op die N1-noord begrawe word.

 

Related Articles

Back to top button