EntertainmentLifestyleLocal NewsNews

Ontmoet dié een, in Afrikaans, met nuwe toep

Armand Aucamp het met Review gesels oor sy toepassing - die eerste Afrikaanse liefdestoep waar jy liefde, vriendskap en geselskap kan vind.

LIMPOPO – Vind liefde, vriendskap en geselskap met die eerste Afrikaanse liefdestoep, naamlik ‘Koer’.

Koer is die Afrikaanse akteur, Armand Aucamp se breinkind, wat Afrikaanse alleenlopendes die kans gee om in hulle taal liefde (of vriendskap) te vind.

Aucamp sê die idee het ontstaan in sy soeke na ‘n besigheidsgeleentheid en by ‘n eg Suid-Afrikaanse aangeleentheid – ‘n braai.

“Ek was sowat 14 maande gelede by ‘n braai en op ‘n kol toe noem iemand hulle wens net hulle kon ‘n doodgewone Afrikaanse ou ontmoet. Die idee het toe by my opgekom, want ek hoor gereeld van iemand wat liefde soek. Daar is ‘n groot gaping in die mark vir ‘n toep waar Afrikaanssprekendes ander Afrikaanssprekendes kan ontmoet,” noem Aucamp.

Hy het toe besluit om drie ander slimkoppe te nader, naamlik ‘n kopieskrywer, ‘n ontwerper en ‘n ontwikkelaar.

“Dit was ‘n lang proses en ons werk sedert Julie verlede jaar aan Koer. Koer is spesiaal omdat dit Afrikaanssprekendes in kontak met mekaar bring en die woordspeling is eg Afrikaans. Die naam Koer ontlok dadelik daardie gevoel van vlerksleep, tortelduifies en liefde,” verduidelik hy.

Koer is reeds vir bykans drie weke al beskikbaar om afgelaai te word en Aucamp sê hulle het reeds meer as 4 000 mense wat die toep afgelaai het.

“Ons probeer Koer so veilig, maklik en gerieflik as moontlik maak. Dit is veilig omdat dit ‘n toep is en jy nie jou huis hoef te verlaat om na ‘n kroeg of kuierplek te gaan om mense te ontmoet nie. Die deel van foto’s word ook nie toegelaat nie, so geen ongepaste foto sal by jou uitkom nie. Daar is ook ‘n rapporteur-en-blokfunksie vir as jy op ‘n profiel afkom waar iets nie lekker pluis is nie,” verduidelik hy oor die toep se veiligheid.

Aucamp noem dat Koer nie slegs vir liefde is nie, maar dat penmaats ook gemaak kan word omdat die toep wêreldwyd beskikbaar is.

“Jy het dalk verhuis en wil nuwe vriende maak of dalk het jy oorsee getrek en wil ander Afrikaanssprekendes ontmoet. Koer bied jou daardie geleentheid,” sê hy.

Dit is eenvoudig om te Koer. Laai die toep op Google Play Store of Apple App Store af, skep ‘n profiel, kies jou belangstellings en verken die Koerwoud.

“Vind jou dam se ganse met Koer. Koer vir jou keuses en koes die res. Jy ontvang bewonderaarsbriewe in jou posbus en kan gesels in die kletskamer. Wie weet, jy ontmoet dalk net die een!”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button