Local sportSport

Arno Botha: Sy bloed is blou, nou nog meer as ooit

Die boorling van Modimolle het met Review gesels oor sy pad van Limpopo tot by die Blou Bulle.

LIMPOPO – Die Blou Bulle was nog altyd sy eerste keuse. Hy het homself blou geverf en voor Loftus Versfeld geslaap vir kaartjies toe hy jonger was. ‘n Ondersteuner was hy nog altyd maar min het hy geweet dat hy eendag vir hulle sal speel.

Arno Botha (28) is gebore in Modimolle en het vir Limpopo Blou Bulle se Cravenweek-span uitgedraf. Later sluit hy aan by die Blou Bulle, maak sy Super Rugby debuut, word ‘n Bok, speel vir London Irish, toe na Munster en in 2020 kondig hy aan dat hy weer die blou-trui gaan dra.

Review gesels met hom.

Open the image to view the large image.

• Dink jy rugbyspelers van Limpopo het ‘n nadeel om raakgesien te word, omdat hulle van ‘n ‘kleiner’ rugby provinsie af kom?

Definitief, ek dink daar is baie talent in Limpopo wat nie altyd raakgesien word nie. Daar moet gekyk word om spelers van Limpopo meer blootstelling te gee. As ons hulle nie gaan vat nie gaan die buiteland hulle vat. Aan die anderkant kry mens ouens wat die geleenthede kry en dit nie gebruik nie. As jy die kans kry moet jy dit vat, ek voel bietjie meer kan ingesit word in Limpopo-rugby, dit sal baie goed wees vir Suid-Afrikaanse rugby.

• Wat is jou hoogtepunt van skolerugby in Limpopo?

Om Cravenweek te kon haal en vir die Limpopo Bulle te kon speel. As ek daaraan dink was eerstespan vir my skool ‘n groot eer en om ook saam my boetie, Andries, te kon speel.

Open the image to view the large image.

• Wie het jou talent raakgesien en was professionele rugby altyd deel van jou planne?

Ek het altyd gehoop en gedroom dat iets sal uitwerk want ek het nie regtig ‘n ‘back-up’ plan gehad nie. Ek is baie bly dit het uitgewerk en dit het my hele lewe verander. Dit was ‘n hele paar mense gewees en mens kan nie net een uitsonder nie. In 2009 het ons ‘n Nylieweek gehad en toe het David Mukhari vir my gesê om na die Bulle se akademie te gaan. My groot deurbraak het gekom toe ons op Loftus in 2009 as deel van die Limpopo Cravenweek-span teen die Bulle in ‘n opwarmingswedstryd gespeel het. Ek het ‘n baie lekker wedstryd gehad en was op die regte plekke en het ‘n drie van die afskop af gedruk. Halftyd het die krag afgegaan, toe gaan speel ons maar by Affies verder. Daar was ek raakgesien en toe op die Cravenweek het Heyneke met my gesels.

In 2013 draf jy uit vir die Bokke, beskryf dié gevoel.

Dit is ‘n gevoel van tevredenheid en selfvertroue in een. As ek moet terug kyk na 2013, halftyd kom ek in die kleedkamer in teen Italië en Heyneke gesels met ons, ek het niks gehoor wat hy gesê het nie en dink net by myself, hier is jy nou. Jy is ‘n Bok en het al 40 minute vir die Bokke gespeel, wat is volgende? Ek kan onthou Heyneke het vir my gesê dat ek nie net een wedstryd vir die Bokke moet wil speel nie maar 100 wedstryde. Toe sê ek dan is daar nog 99 om te gaan. Dit is ‘n ongelooflike gevoel wat mens nie kan beskryf nie

• Wat het jy geleer in jou tyd oorsee, wat jy by jou spel kon byvoeg of aanpas?

Ek het baie geleer oorsee en baie geleer by baie mense. Dit was baie lekker gewees om weer saam Johan van Graan te kon werk by Munster, en saam met Brendan Venter by London Irish. Ek het baie meer van die spel self geleer en meer geïnteresseerd geraak in dit. As jy jonger is wil jy net speel en dit moet so wees, maar dit is lekker om te kyk en te sien wat jy beter kan doen. Johan is ‘n groot aanhanger daarvan om video’s te kyk en te sien hoe jy jouself kan verbeter, ek dink hy is ‘n uitstekende afrigter. Ek het ook baie by Pieter Kruger, ons psigiese mentor geleer, oor hoe om psigies beter te wees.

Open the image to view the large image.

• As rugby in SA hervat word, wat dink jy gaan die moeilikste wees vir die spelers om weer aan te pas?

Die spoed van die wedstryde is klein bietjie stadiger oorsee, maar mens oefen maar hoe mens sal speel. As die Curriebeker dalk weer hervat word, sal ons gereed wees want rugby bly rugby en die fondasie daarvan bly dieselfde.

Lees meer in vandeesweek se Polokwane Review oor sy pad van Limpopo tot Bokspeler. 

Foto’s verskaf deur GB Jordaan.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button