Local NewsNews

Sy was ‘n inspirasie

Wilma (46), wat in 2010 met borskanker gediagnoseer is, is Vrydagoggend oorlede

“Sy sê sy sukkel om te slaap as sy droom. As sy droom. Sy sê daar’s nog so bitter baie dinge wat sy nog wou doen…”

Dit is asof Jakkie Louw, bekende Afrikaanse sanger en vriend van Wilma Jocks se familie, sy liedjie Een Miljoen Woorde net vir Wilma geskryf het. Daar was soveel wat sy nog wou doen.

Wilma (46), wat in 2010 met borskanker gediagnoseer is, is Vrydagoggend oorlede.

Na die eerste diagnose in 2010 het sy vir agt maande lank teen kanker gestry en daarna was sy vir 11 maande in remissie voordat die kanker teruggekeer het en na haar lewer versprei het.

Hierdie keer het Wilma en haar familie geweet die stryd wat sy moes stry was vergeefs.

“Ons het van Januarie af begin gereed maak vir haar dood, maar haar dood was steeds skielik vir ons,” het haar man, André, vertel.

“My ma was altyd besig. Sy het nooit tyd vir haarself gehad nie, maar altyd tyd vir ander mense. Selfs terwyl sy oortrek was met kanker het sy in 2013 ‘n rekordgetal kankeroorwinnaars vir die Relay for Life-byeenkoms gewerf. Mense is na haar verwys sodat sy hulle kon raad gee en moed inpraat,” het haar seun, Henry Wepener gesê.

Werner Potgieter is Wilma se dogter, Jacoline Wepener, se verloofde.

Hul troudatum was vasgestel vir 1 November.

Hy het vertel dat hy onthou hoe Wilma sy ouma, wat ook aan kanker ly, gehelp het en hoe sy dikwels by sy ouma gaan kuier het.

“My ma was ‘n wonderlike ma. Die laaste ruk het sy my gehelp om nog goed vir my en Werner se troue en skoene vir Henry se matriekafskeid te kry. Sy was ook altyd net sonskyn. Al het sy pyn gehad of al was sy hartseer; tussen mense was sy net sonskyn,” het Jacoline aan Review vertel.

Henry is in gr. 12 in die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en hulle matriekafskeid is Vrydag.

André het verduidelik hoe Wilma ‘n vrou was wat dinge vooruit beplan het. “Sy het vir ons almal briewe geskryf voordat sy oorlede is.”

Wilma se laaste week was ‘n moeilike week vir die hele familie. “Sondag het sy nog rondgeloop en Maandag het ons oor die telefoon gesels,” het Jacoline vertel.

“Dinsdag kon sy nie meer praat nie. Een van my vriende het my gesê sy het in Review (23 September) verskyn. Sy het my nie eers van die onderhoud vertel nie,” het André gesê.

Hulle vertel teen Woensdag het sy hulle nie meer regtig herken nie en Donderdag was sy nie meer by haar volle positiewe nie.

“Ek was Donderdag na skool by haar. Sy het haar oë vinnig oopgemaak, vir my gekyk en weer toegemaak,” het Henry vertel oor sy laaste oomblikke saam met sy ma.

Dewald Gouws en past. Douglas Brooks het vir haar gesing in die laaste paar dae voor haar dood en volgens André het dit vir haar rus vir haar siel gegee. “Verlede Donderdag was ‘n pastoor by haar en het hy vir haar gebid. Sy het my vertel haar saak met die Here is reg.”

“Ons het nie besef hoe-veel mense sy geïnspireer het tot ons al die boodskappe van bemoediging op Facebook sien nie,” het Jacoline gesê.

Henry het onthou dat Wilma hom geleer het om alles in die lewe te geniet.

“Sy het altyd liefde teenoor my getoon en vir my gesê sy is lief vir my. Ek sal dit nooit vergeet nie.” Jacoline het gesê dat Wilma vir haar en Henry ‘n wonderlike tweede pa in hulle lewe gegee het en Werner het onthou dat Wilma nooit genoeg liefde kon gee nie. Wilma se begrafnis word Donderdag om 11:00 vanuit die AGS Taberna Dei Ooskampus in Bekkerstraat gehou.

Wilma word oorleef deur André, Jacoline, Werner, Henry, haar ouers, ‘n broer, suster en Roxy, haar vark-hond.

Related Articles

Back to top button