Local NewsNews

Draf-draf om die kerk vir ‘n goeie doel

Die ‘Om-die-Kerk Olympics’ is van stapel gestuur as ‘n fondsinsamelingsprojek en daar is ook plaaslik gedraf.

POLOKWANE – Die grendeltydperk het beslis die kreatiewe sy in inwoners, besighede en ook kerke na vore gebring.

Op Vrydag, 1 Mei om 08:00 is predikante versoek om deel te neem aan die “Om-die-kerk-Olympics”. Dit het behels dat hulle rondom hulle kerke moes hardloop, of selfs fietsry.

By die Nederduitsch Hervormde Kerk Welgelegen Pietersburg het ds. Henk Joubert en sy vrou, Trudie, die uitdaging saam aanvaar en vroeg-vroeg reeds hulle tekkies aangetrek.

Die doel van dié inisiatief, wat deur die Algemene Diakens Vergadering (ADV), van stapel gestuur is, was om geld in te samel.

Predikante moes soveel keer as moontlik in 30 minute rondom die kerk hardloop. Henk en Trudie se roete het onder die Apiesdorings, waar Sondae tee geniet word begin, verby die kombuis na die kerk se hoofingang, verby die Bewaringsmuur, agter om klaskamers 1 tot 6, op met die rolstoeloprit terug na die Apiesdoring waar alles begin het.

“Lidmate word versoek om ons te borg per rondte. Sodoende vind daar ‘n geldsinsameling vir die gemeente plaas. ADV versoek dan dat elke gemeente 10% van dié fondse aan die ADV – Covid-19 Rampfonds skenk, asook 10% aan die ADV sodat die barmhartigheidswerk vlot kan voortgaan,” verduidelik Henk.

Daar is eers beplan om net 15 rondtes te hardloop, maar dit is vinnig na 20 rondtes opgeskerp. Terwyl die egpaar egter gehardloop het, is dié getal opgeskuif na 25 rondtes.

In die woorde van die ADV: “Kom ons wys vir die wêreld dat die werk van ons Hoof en Heer, Jesus Christus, springlewendig is en met Spore van Hoop getrap word.”

Beide Henk en Trudie is getroue Parkrun-drawwers.

“Dit was baie lekker, alhoewel dit hier teen die einde al hoe moeiliker geraak het, veral teen die opdraendes op,” vertel Trudie.

Daar is reeds R15 000 vir die projek ingesamel.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button