Local NewsNews

‘Sjina het tot stilstand gekom’ – Polokwane inwoner

Nicky Breedt is 'n gekwalifiseerde onderwyser en werk al die laaste agt maande in Ningbo, Sjina.

POLOKWANE -“My naam is Nicky Breedt en ek kom van Polokwane. Ek is ‘n gekwalifiseerde onderwyser en werk al die laaste agt maande in Ningbo, Sjina.”

Nicky was nie die hele tyd met die uitbraak van die koronavirus in Sjina nie en het vir die Sjinese Nuwejaar (wintervakansie) huis toe gekom, Suid-Afrika toe.
Sy het egter heelwat inligting deurgekry van haar vriende wat steeds in Sjina was toe die virus sy ernstige verskyning gemaak het.

“Ek self is daardeur geraak want my vliegtuigkaartjie terug Sjina toe is gekanselleer deur die lugredery en ek was paniekerig, want volgens dokumentasie sou ons skool weer op 9 Februarie begin het.”

Na heelwat gespook en gesprekvoering tussen haar en haar skool, is sy meegedeel dat die regering alle skole gesluit het en geen skool sal heropen totdat die regering toestemming gee nie. “Ek is wel meegedeel dat ons skool na alle waarskynlikheid op 2 Maart sou begin en dat ek so gou moontlik moet terugkom, want ek moet twee weke kwarantyn deurgaan by my eie woonstel.”

Met ‘n groot gesukkel het Nicky ‘n vlug gekry deur Air China (wat op daardie stadium die enigste lugredery was wat tot in Ningbo gevlieg het) vanaf Johannesburg se OR Tambo Lughawe tot in Shenzhen in Sjina, en van daar na Beijing en dan na Ningbo.

Dit was ‘n gesukkel want in daardie stadium het geen vlugte in Hong Kong of Shanghai geland nie en die opsies was baie beperk.

Nicky Breedt

“Ek het om 10:00 op 14 Februarie op die vliegtuig in Johannesburg geklim met my sjirurgiese masker, waarvan ek 50 gekoop het, en my handskoonmaakmiddel. Die mense op die vliegtuig het my aanvanklik snaaks aangekyk, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. Dit was ‘n ongelooflike reis want die vliegtuig was nie eers half vol nie. Ek het drie sitplekke vir myself gehad en kon die dagreis met gemak aanpak. Op al die lughawens in Sjina is ons temperatuur gemeet en daar is seker gemaak dat almal maskers op het. In Beijing het hulle my handskoonmaakmiddel gekonfiskeer en ek was nie seker hoekom nie, maar vermoed die houer het die wettige grootte wat jy in jou handbagasie mag saamdra, oorskry.”

Nicky voeg by dat met haar aankoms by Ningbo Lughawe om 17:00 op 15 Februarie, was daar ongelooflik baie sekuriteit en mediese personeel om almal se temperatuur te meet.

“Jy moes ‘n vorm invul om te sê van waar jy kom en dan moes jy op ‘n toepassing jou besonderhede invul. Omdat ek ‘n buitelander was met ‘n SA paspoort, was ons ry genadiglik baie kort en kon ek vinnig deurkom. Op die ondergrondse trein na my woonstel toe het ek alreeds die eerste tekens van die situasie waargeneem. Waar die treine gewoonlik daardie tyd van die dag stampvol was en jy nie eers behoorlik kon staan nie, het ek een hele wa vir myself gehad. Ek moes ook dadelik my polisiestasie in kennis stel dat ek terug is in, iets wat jy moet doen as jy die land verlaat en weer terugkom.”

Nicky moes toe sy by haar aankom weer vorms invul, bewys dat sy daar woon, haar temperatuur laat meet en het ‘n pienk papier met die hele Februarie se datums op gekry.

“Dit was jou hekpas. Sonder daardie pienk papier, masker en temperatuur meet gaan jy nêrens heen nie! Met ‘n groot gesukkel en die gebruik van Google Translate en handgebare, kon ek darem weer die gemeenskap verlaat om te gaan kos koop. Dit was vreemd om geen mense in die strate te kry nie. Alles was verlate. Dankie tog, daar was ‘n winkeltjie oop waar ek die nodige groente, vrugte en noodsaaklikhede kon koop, want ek was vir ‘n maand weg en het niks in my huis agtergelaat nie.”

Sy moes vir 14 dae in huiskwarantyn bly, maar omdat sy alleen gebly het, was sy toegelaat om elke derde dag winkel toe te gaan.

“Jy durf nie die kompleks verlaat het sonder ‘n masker, handskoene en ‘n temperatuurmeting nie en moes so gou moontlik terugkeer na jou woonstel toe. Daar was niemand op straat wat net rondgery of rondgeloop het nie. Slegs die kosafleweringsmotorfietse het rondgery. Voor jy by ‘n winkeltjie mag ingaan, moes jy eers jou temperatuur laat meet en jy moes jou naam, van en telefoonnommer neerskryf.”

Sy sê meeste goed word in Sjina op jou selfoon gedoen. “Ek kon wegneemetes soos Burger King, McDonalds en KFC met my foon bestel en dit is voor my deur afgelewer. So ook kon ek kruideniersware en enige iets wat ek benodig het koop. Ek het nie nodig gehad om winkels toe te gaan nie maar Sjina het letterlik tot stilstand gekom.”
nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Related Articles

Back to top button