Local NewsNews

‘Nagmerrie’ reis vir Polokwane-egpaar weens Covid-19

Laurence Anderson en sy vrou, Magda is op ‘n skip tydens staat van Covid-19 inperking gestrand. Hulle vertel hul storie

POLOKWANE – Minwetend wat vir Laurence Anderson en sy vrou, Magda, voorlê, vertrek hulle opgewonde op 29 Februarie na Luanda vir ‘n aansluiting na Sao Paolo.

Hulle is op pad om by hulle kinders in Engeland te gaan kuier.

“Ons het met die Angolese lugredery gevlieg en ons eindbestemming was die stad van Evita Peron en die tango, Buenos Aires. Tot en met nou was daar geen probleem en die Koronavirus was nog beperk tot Sjina. Na drie vlugte dié dag, land ons veilig op Sondag, 1 Maart in Beunes Aires. Ons ry in die breedste straat in die wêreld na ons hotel, maar die middestad word afgekordon weens ‘n politieke saamtrek. Die hotelpersoneel moes ons sowat ‘n blok verder per voet kom haal. Dit was ‘n voorsmakie vir wat nog moes kom?”

Twee dae later vertrek die egpaar met die Costa Pacifica, ‘n ernorme skip met sowat 13 dekke, 2 900 passasiers en 1 100 bemanning, na Barcelona, Spanje vanwaar hulle na Londen sou vlieg.

“Ons sou by drie hawens in Brasilië aandoen voordat ons oor die waters sal vaar tot in die Kanariese Eilande na Tenerife en Lanzarote, en daarna die Spaanse hawens by Malaga en uiteindelik Barcelona. Net na die ewenaar gekruis is, verneem ons dat Spanje al sy hawens vir seeverkeer gesluit het.”

Met die nuus dat al die Spaanse hawens gesluit is, het die planne verander en het Laurence en Magda nie ‘n idee gehad wat nou sal gebeur nie.

“Die kaptein verwittig ons die Franse owerhede het die skip toestemming verleen om in Marseille te anker en die passassiers te laat afklim en na hul bestemmings te stuur. Ons was gered, want nou kan ons sommer direk na my dogter in Engeland vlieg en dan val ons vlugplanne net weer in plek.”

Of só het hulle gedink.

‘n Dag daarna kondig die Franse president aan dat alle hawens word gesluit en is Laurence hulle weer waar hulle was. By Marseille mag slegs die Franse burgers die skip verlaat. Hierna vaar hulle verder na Genoa, Italië, die eindbestemming van die skip se reis.

“Die Argentyne, wat meer as die helfte van die skip beset het raak knorrig en begin onder mekaar en met die skeepsowerhede woorde wissel. Die Engelssprekende passasiers hou ‘n vergadering waar planne gemaak word om veilig van die skip af te kom. Die boodskap word aan die kaptein oorgedra, maar ons eindig in Genoa. Hier verlaat die Argentynse en Italiaanse passasiers die skip.”

Hy vertel dat alhoewel hulle gereed is om vinnig die skip te verlaat, is daar vir hulle geen goeie nuus nie. Vir twee dae bekyk hulle die stad van Genoa vanaf die dek, met die nuus van die een na die ander land wat gesluit word.

“Ons kans word kleiner en minder. Ons begin al grappenderwys dink om die skip te kaap om dan na Suid-Afrika te vaar, of om van die reddingsbootjies te beman en begin roei, maar President Cyril Ramaphosa sluit ook alle Suid-Afrikaanse hawens vir passasierskepe. En so is ons weer terug na die begin.”

Op Sondagaand, 22 Maart kondig die kaptein aan dat die skip nou sal vaar na Rome sodat die passasiers naby die internasionale lughawe kan wees. Die volgende oggend dok die skip by Rome se hawe en die Suid-Afrikaanse burgers word geroep om gereed te maak om die skip te verlaat.

“Ons word ons paspoorte in die hand gestop asook ons vlugreëlings en word voorsien van gesigmaskers en handskoene. Buite wag die ry busse met hawepersoneel en polisie. Ons sit slegs een persoon in ‘n ry. In Doha verwissel ons van vliegtuie en land die volgende oggend op OR Tambo met ‘n groot gejuig.”

Die gesondheidspersoneel van die lughawe het elke passasier se temperatuur gemeet voordat hulle die vliegtuig mag verlaat.

“Nieteenstaande dat dit ‘n spanningsvolle tydjie was, was ons nie eendag onversorg gelaat nie. Ons het nogsteeds ons kajuitdienste, etes en gereelde vermaak op die skip ononderbroke gehad. Die skeepsowerhede het ons sedert Marseille gratis WhatsApp toegang gegee vir teksboodskappe ten einde ons familie op hoogte hou. Ons kon agterkom die skip se kos word minder, want die kombuispersoneel het nou self begin opskep. Ons daaglikse hotelfooi word geskraap en ons kry toegang tot sekere koeldranke en koffie asook wyn tydens etes.”

Laurence voeg vinnig by dat hy nie wil weet wat dit die skeepsowerhede gekos het nie.

“Ek wou beslis ook nie in die skoene van die kaptein gewees het nie. Hy moes ons almal, passassiers sowel as bemanning, se sorge en veiligheid op die hart dra. Hierdie was ‘n ervaring wat ek geen ander persoon toewens nie, want die onsekerheid het maar voortdurend geknaag. ‘n Avontuur en ‘n half was dit nou nie eintlik nie, net ‘n ongemak dat ons nie ons beplande vakansie en besoek aan ons kinders in Engeland kon voltooi nie.

Wie moet ons bedank hiervoor, die Koronavirus natuurlik.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

Magda en Laurence Anderson tydens een van hulle boot-vakansies. Agter: Die Costa Pacifica waarop die egpaar gereis het.

Related Articles

Back to top button