Local NewsNews

Sarel by braaidag gedenk

Die eerste ronde van die My Limpopo Kombuis-braaikompetisie, wat deur Hulp In Elke Behoefte (Hieb) en Florapark Spar aangebied word op 24 September, sal aan Sarel Loots opgedra word.

POLOKWANE – Die eerste ronde van die My Limpopo Kombuis-braaikompetisie, wat deur Hulp In Elke Behoefte (Hieb) en Florapark Spar aangebied word op 24 September, sal aan Sarel Loots opgedra word.

Dié besluit kom na Loots, beter bekend as Sarel van Sabie van Masterchef-faam, se skielike dood aan ‘n hartaanval in die vroeë oggendure van Maandag.

Loots sou as die braaikompetisie se gasbeoordelaar opgetree het in die finale ronde.

“Ons kompetisie gaan voort en die kompetisie sal aan Sarel opgedra word,” sê een van Loots se goeie vriende, Dirk Liebenberg.

Liebenberg, een van die kompetisie-organiseerders en Hieb-direkteur, vertel ook dat hulle nog nie vir ‘n nuwe beoordelaar begin soek het nie, maar dat hulle ‘n paar bekende name in die kosbedryf oorweeg.

Die kompetisie sal op Erfenisdag, oftewel Nasionale Braaidag geloods word by Florapark Spar.

“Ons beplan ‘n karnavalatmosfeer vir die dag met springkastele vir die kinders en ‘n pretdraf in die oggend,” vertel Liebenberg.

“Die tema vir die kompetisie is Braai in Die 1920’s, so kry gerus jou kruisbande reg vir die kompetisie,” voeg hy by.

Daar is plek vir 40 spanne om aan die kompetisie se eerste ronde deel te neem en inskrywings kos R1 000 per span.

Die wenners sal R10 000 kontant wen en enige Suid-Afrikaanse burgers of maatskappye kan spanne inskryf.

Volgens Liebenberg sal dit ideaal wees as besighede mekaar uitdaag vir dié braaikompetisie.

Die finale van die kompetisie sal op 2 Oktober by die Polokwane Gholfklub plaasvind waar die vier beste spanne teen mekaar sal braai vir die My Limpopo Kombuis-braaimeester se titel tydens Hieb se gholfdag.

Braaiers sal ‘n voorgereg en hoofgereg of ‘n hoofgereg en nagereg moet voorsit aan die beoordelaars en vleissnitte vir die kompetisie moet by Florapark Spar aangekoop word.

Deelnemers kan met die blokman van Florapark Spar, Marko Jacobs, by die winkel se slaghuis kom gesels om spesiale vleissnitte vir die kompetisie uit te kies.

Vir meer inligting skakel Dirk Liebenberg by 081 707 7467, Dina Pretorius by 083 628 9249 of Henry Bojé by 015 296 4139.

Related Articles

Back to top button