Local NewsNews

Cayleigh hoop ander volg in haar voetspore en doen hul deel

Cayleigh beplan om elke jaar haar hare te skenk tot sy te oud is en dit nie meer kan doen nie.

POLOKWANE – Met trane in haar oë is Dianne Le Roux besig om haar kliënt se hare af te sny. Dié hare hang op die kliënt se boude en Dianne weet hoe dit voel om al jou hare te verloor. Dianne is ‘n kanker-oorwinnaar en toe Cayleigh Jonker (15) vir haar vertel sy wil haar lang lokke sny om aan Kansa te skenk, kon Dianne nie die trane keer nie.

“My ma, Natasha, is na Hair & Beauty to Di For in Pretoria om haar hare te sny toe ek op slag besluit het om ook myne te sny. Ek groei ongeveer twee jaar al aan dit en het dit juis so lank laat word om aan Kansa te skenk. Dit was ‘n langtermyn plan gewees,” vertel Cayleigh.

Cayleigh Jonker voor haar hare afgesny is. Foto: Verskaf.

Dié leerder van Hoërskool Pietersburg is vasberade om ‘n verskil te maak. “Ek groei nou weer aan my hare sodat ek dit later weer vir Kansa kan skenk. Ek glo die oorsprong van ‘n vrou se selfvertroue is in haar hare en dus gee ek ‘n bietjie van my selfvertroue aan vroue wat hulle sin verloor het.”

Alhoewel Cayleigh niemand ken wat kanker het nie, het haar sussie, Tahlita, altyd vir haar gesê sy het mooi, gesonde en dik hare.

Cayleigh Jonker na haar hare afgesny is. Foto: Verskaf.

“Ek beplan om elke jaar my hare te skenk tot ek te oud is en dit nie meer kan doen nie. Ek hoop ek het nou ‘n saadjie in ander jong mense se koppe geplant dat hulle ook ‘n skenking sal maak. Ek hoop ander volg in my voetspore.”

Natasha vertel dat Kansa se vereiste 30cm is en dat dié hoeveelheid van Cayleigh se hare afgesny en geskenk is.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button