Local NewsNews

Riekie vertel haar storie op Wêrelddag vir selfdoodvoorkoming

Wêrelddag vir selfdoodvoorkoming was op Dinsdag, 10 September gevier en Review het met Riekie van Tonder, 'n ma van twee kinders, gesels wat reeds op 19 die eerste keer probeer selfmoord pleeg het.

POLOKWANE – Volgens The South African Depression and Anxiety Group (Sadag) het daar sedert Januarie 2019 meer as 145 33 mense hulle gekontak vir hulp. Wêrelddag vir selfdoodvoorkoming was op Dinsdag, 10 September gevier en Review het met Riekie van Tonder, ‘n ma van twee kinders, gesels wat reeds op 19 die eerste keer probeer selfmoord pleeg het.

“Ek het in gr. 12 uitgevind dat ek eintlik ‘n ander van het. My ma het my vertel dat sy en my pa eintlik my pleegouers is.”

Lees ook: [WATCH] Suicide is not always an intentional act, says Reholegile Mehlape

Om op die ouderdom van 18 jaar uit te vind dat die mense wie jy jou lewe lank gedink het jou ouers is, nie is wie hulle sê hulle is nie, is volgens Riekie verwoestend.

“Ek het terwyl ek nog in gr.12 was aansoek gedoen vir werk en die Januarie na my eindeksamen, het ek gehoor ek kan Februarie by die gevangenisdiens as bewaarder begin werk. Ek het net my klere gepak en vir my ma gesê dat ek niks verder wil hê nie. Ek wou net uit die huis kom. Ek was alleen en het gevoel ek het niks en niemand nie.”

Riekie het met die verkeerde vriende begin kuier en iemand spesiaals ontmoet. Hy het haar egter verneuk en sy het weereens intense verwerping beleef.

“Op hierdie stadium was ek op anti-depressante en het my mediesefonds misbruik, deur na verskillende dokters toe te gaan om dieselfde pille te kry. Een aand het ek verskriklik baie gedrink en sommer ook ‘n klomp van die pille geneem. Ek wou net doodgaan. Ek het in die hospitaal wakker geword en my pleegma het langs my gesit.”

Riekie en haar kêrel het besluit om die verhouding weer ‘n kans te gee en kort daarna het sy uitgevind dat sy swanger is. Sy het na haar biologiese ma toe getrek, maar na ‘n kort tyd het haar pleegma met die welsyn se hulp vir haar plek in ‘n tehuis vir ongehude moeders gekry. Haar pleegma het weer toutjies getrek en sy is uit die huis gehaal.

Nie lank daarna nie, is haar dogtertjie gebore en het sy ‘n nuwe man ontmoet. “Ons het by sy ouers gebly en ek het gevoel ek word aanvaar. Ek en hy is later getroud maar weer geskei. Ek was verslae, hier sit ek sonder werk met ‘n baba. My pleegma het aangebied om na my kind te kyk en my later oorreed om haar af te teken en hulle het haar wettiglik aangeneem. Skielik het hulle alle kontak met my gebreek en ek kon haar nie meer sien nie.”

Weereens val Riekie se wêreld uitmekaar en vir ‘n tweede keer neem sy ‘n oormat pille. Hierdie keer is sy vir twee dae lank in ‘n koma.

“Ons het dinge uitgewerk en weer getrou. Hierdie keer was ons gelukkiger en ek het swanger geraak met my jongste dogter. Ongelukkig is ek en haar pa geskei toe sy vyf jaar oud was. Ek het by ‘n restourant as bestuurder gewerk en het een naweek besluit om sak en pak na Polokwane te trek. Toe ek hier aangekom het, het ek niks gehad nie maar darem weer werk gekry en stelselmatig my pad weer gevind.”

Riekie soek haar lewe lank na aanvaarding en om in te pas, maar voel dat sy niks bereik het nie. “Ek dink dis waarom ek heeltyd met die verkeerde mans deurmekaar raak. Dit is ‘n stryd om aanvaar te word en in te pas, want dit voel of ek nêrens inpas nie. Ek loop nog altyd met die soeke na iets, met die vraag van waar pas ek in.”

In die jare nadat Riekie en haar dogter na Polokwane getrek het, het sy op verskeie plekke gewerk en haar kind alleen groot gemaak. Op ‘n stadium is sy weer getroud, maar dié man se drink-gewoontes het te erg vir haar geraak en hulle is geskei. Daarna was sy weer in ‘n ernstige verhouding van 10 jaar.

“In hierdie tyd het ek ook gevoel of ek nêrens behoort nie en vir ‘n derde keer my lewe probeer neem. Dit was weereens ‘n mislukking. Ek voel steeds of ek nêrens hoort nie, maar ek het ‘n wonderlike ondersteuningsisteem. Ek is nou twee jaar gelukkig getroud en alhoewel ek veronderstel is om op antidepressante te wees, vertrou ek myself nie met soveel pille nie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button