Local NewsNews

Die gezoem van bye laat Carel se hart vinniger klop

"Dieeeee, gezoem van die bye en die lekker turksvye..." Alhoewel dié woorde, van die bekende Afrikaanse liedjie, 'n prentjie skets van lui lekker tye, is die gezoem van die bye iets wat Carel Brand se hart vinniger laat klop.

POLOKWANE – Dié pa van twee dogtertjies het ongeveer twee jaar terug begin om ernstig belang te stel in bye en bye boerdery.

“‘n Mens praat nie van ‘n byevanger nie, maar van ‘n byeboer,” vertel hy waar ons sit en gesels. Carel sê hierdie stokperdjie is gebore uit sy liefde vir die natuur.

“Ek het al hoe meer begin hoor hoe bye minder begin word. Daarom het ek besluit om ‘n kursus in Gauteng te voltooi oor byeboer. Intussen het ek baie by ander byeboere asook uit eie ondervinding geleer.”

Carel werk voldag en boer deeltyds met die bye. Hy vertel hy is gewoonlik alleen, maar sy skoonpa help hom soms, veral as hy die bye moet skuif. Hy het ongeveer 150 korwe wat meestal op boere in Tzaneen en die omliggende omgewing se plase is.

“In die verlede is daar gepraat van heuning wat sandsuiker, maar eintlik kristalliseer die heuning. Wanneer dit kristalliseer moet ‘n mens dit in die son sit en nie in die mikrogolfoond nie. Soms kristalliseer heuning binne in die korf. Wanneer heuning kristalliseer, dui dit op suiwerheid.”

Carel is volgens hom, al ontelbare kere deur die bye gesteek en verduidelik hoe dit nodig is om gesteek te word, aangesien dit help om ‘n immuunstelsel op te bou.

“Hier in die noorde het ons die Afrika Moordenaarsby, terwyl die Kaapse Heuningby meer in die suide voorkom. Die Kaapse heuningby is bietjie rustiger as die Afrika Moordenaarsby. ‘n Werkersby lewe net drie weke terwyl die koningin drie tot vier jaar kan lewe. Die werkers is almal wyfies. Die hommelby, of te wel die mannetjies, se enigste doel is om die koningin te bevrug en hulle gaan dood direk nadat hulle gepaar het.”

Carel verkoop heuning wat hy uithaal en vertel van die lekker heuning wat bye maak nadat hulle by ‘n pampoenboerdery was. “Daar is soveel lekker heuning-maak geleenthede. Makadamia, waatlemoen en avokadopeer is van die elemente wat bydra tot lekker heuning. Sonder bye gaan hierdie plantasies en boerderye nie so goed kan voortbestaan nie. Bye bevrug die plante en dan is die vrugte groter, en groei hulle meer geil.”

Carel giet ook nou beton korwe. “Die beton help dat die bye die temperatuur beter beheer. Met die hout korwe gebeur dit dat die korwe, as gevolg van veranderende weersomstandighede, skeeftrek en daar dan wasmotte invlieg of die wind deur trek.”

Elke byeboer het ‘n spesiale nommer wat op al sy korwe aangebring word. Hulle moet by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geregistreer wees. Byeboere kan ook by die South African Bee Industry Organisation aansluit.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button