Local NewsNews

‘Bietjie verveeld’, toe ontdek susters dié stokperdjie

In vandag se lewe is hekel nie ‘n tegniek wat elke twee jongmens mee vertroud is nie. Inteendeel, daar is selfs diegene onder die ouer generasie wat self nie weet nie.

POLOKWANE – Tog het twee jong vroue, Alicia de Wet en Martinique Weweje onlangs besluit om dié tegniek baas te raak en nou verkoop hulle spesiaal gehekelde speelgoed.

Martinique, die jongste van die twee susters het by Ousus Alicia geleer en dié het weer van YouTube gebruik gemaak om die kuns te vervolmaak.

Alicia de Wet en haar suster, Martinique Weweje met van die items wat hulle gehekel het.

“Ek en my man, Bennet, woon op ‘n plaas en in die winter neem produksie af en is ons stiller. Ek het iets gesoek om my mee besig te hou en op die hekelwerk afgekom. Dit is ongelooflik lekker om te sien hoe ‘n bol wol in iets ouliks kan verander,” vertel Alicia.

Al kan nie hul ma of ouma hekel nie, vertel die sussie kuns is tog in die familie.

Hulle ouma maak die mooiste satynlint borduurwerk en hulle ma doen lapverf.

Die susters werk van patrone af en elkeen het begin om ‘n haas te hekel.

Martinique vertel dit het haar ongeveer ‘n week geneem het.

“Ek het ‘n bietjie gesukkel aan die begin en om steke te verminder was baie moeilik. Toe ek eers die tegniek snap, was dit maklik. My grootste uitdaging was om ‘n kombers te hekel. Dit het baie tyd en baie wol gekos.”

Alicia stem saam oor die uitdaging van ‘n kombersmaak en vertel van die koningingrootte kombers wat haar drie maande geneem het om te voltooi.

“Een van my grootste projekte was ‘n lewensgroot teddiebeer wat ek vir iemand na aan my gehekel het. Ek moes ook ‘n mobiele speelding hekel vir ‘n bababed, met gehekelde lugballonne en klein wilde diere. Dit was nie ‘n maklike projek nie, maar o, tog so lekker,” vertel sy.

Dis juis omdat die susters die stokperdjie so geniet, dat hulle dit deesdae by basaars en ander markte verkoop.

Hulle hekel ook op bestelling en het al speelgoed vir ‘n ooievaarstee gehekel. Hulle hekelstyl is baie dieselfde en as dit moet, kan een aangaan waar die ander een opgehou het.

“Ons kan ook items verpersoonlik, soos ‘n beertjie met ‘n pienk arm en pers been,” vertel Martenique.

Kontak hulle op Little Crochet Creations

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button