Local NewsNews

Harry sê vaarwel met ‘n knipoog en ‘thumbs-up’

Harry is Maandagaand oorlede na byna 'n maand in die hospitaal.

POLOKWANE – Met ‘n knipoog, ‘thumbs-up’ en sy bekende glimlag, groet Harry Strauss nie net sy seun André nie, maar ook die res van sy familie en die Polokwane gemeenskap. Harry is Maandagaand oorlede na byna ‘n maand in die hospitaal.

“Hy was in die intensiewe sorgeenheid en die dokters het gesé hy is gereed om na ‘n normale saal geskuif te word, dis toe hy ‘n kiem kry. Sy ingewande en organe het ingegee en hy is skielik oorlede,” vertel André wat langs sy pa se hospitaalbed was toe hy oorlede is.

Harry was vir ongeveer 10 jaar ‘n onderwyser by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé waar hy baie by die skool se fietsry-span betrokke was, die busse bestuur het en disipline gehandhaaf het.

Sy vrou, Nicolene, vertel sy maag het teen die einde vreeslik opgeswel en hy het haar gevra om sy maag te druk, om sodoende die ongemaklikheid en pyn te verlig.

Dié twee het 26 jaar terug ontmoet toe Harry ‘n onderwyser by Generaal Piet Joubert was en sy op die perseel gebly het. Buiten dat beide in die onderwys betrokke was, het hulle verskeie gedeelde belangstellings gehad.

“Harry het so drie jaar gelede knie operasies ondergaan wat nie 100% suksesvol was nie, dit het sy lewe moeilik gemaak. Maar hy was altyd reg om te help oral waar hy kan. Hy het vir ons ‘n lapa by die huis gebou en die tuin instand gehou. Hy was baie lief daarvoor om dinge in en om die huis te doen,” vertel Nicolene.

André vertel sy pa het hom alles geleer wat hy vandag weet van visvang, jag en 4×4 ry. “Ons het alles saam gedoen. Hy’t my ook geleer hoe om voluit te lewe. Ek sal nooit vergeet hoe hy met een hand op die bord kon begin skryf en dan met die ander hand aangaan en verduidelik nie.”

Foto: verskaf.

Nicolene voeg by hoe Harry uit sy pad uit sou gaan om ander te help en dat hy ongelooflik trots was op sy kinders. “Hy het nooit geskroom om te help waar hy kan nie.”

Sy dogter, Joané, vertel sy gaan haar pa se ondersteuning mis. “Ek kon hom altyd enige iets vertel en al sou hy dalk ‘n rukkie kwaad wees, sou hy jou ondersteun en help.”

Harry se begrafnis vind plaas môre (Vrydag), om 12:00 vanuit die N.G. Kerk Pietersburg-Oos.

Harry los sy vrou, Nicolene en twee kinders, André en Joané, familie en vriende agter.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button