Local NewsNews

Beurtkrag los klein-sakeondernemings in die donker

Review het met klein sakeondernemings se eienaars gesels oor hoe die beurtkrag hulle beïnvloed.

POLOKWANE – Elke Suid-Afrikaner word op een of ander manier deur beurtkrag geraak. Of dit nou is dat jy laat is vir ‘n afspraak omdat die verkeersligte nie werk nie, of dat jy nie kan kos maak nie, die beurtkrag is vir almal ongerieflik.

Review het met klein sakeondernemings se eienaars gesels oor hoe die beurtkrag hulle beïnvloed.

“As ons nie krag het nie, het ons ook nie sein nie. Ek probeer om dit werk, maar dit is verskriklik moeilik. My besigheid het afgeneem,” vertel Lorraine de Jager, ‘n plaaslike kralemaker.

JJ Fourie, ‘n elektriese-motorwerktuigkundige, vertel dat wanneer die krag af is, is die selfoonsein swak en sukkel kliente om hulle oor die telefoon te hoor. “Oproepe kom ook nie deur nie en is ‘n groot frustrasie. Die kliënte dink jy vermy hulle, maar eintlik kan jy hulle regtig nie hoor nie.”

Selfs dokters se spreekkamers lei daar onder en een ontvangsdame vertel hoe dokters reeds teen duurste batterye laat in sit het, maar daar is steeds sekere masjiene wat nie werk nie. “Siek mense wil nie sukkel nie.”

Natalie van Wyk, ‘n fotograaf, vertel haar hele besigheid draai om elektriese toebehore en sosiale media en as die krag af is, is haar rekenaar en drukker af, werk haar verskaffers stadiger en raak haar kliënte ongeduldig. “Ons het tot al beurtkrag op troues gehad en kragopwekkers help net soveel.”

Kitskos-restourante loop ook deur onder beurtkrag en Paul Wesses vertel dat hulle astronomiese verliese lei. “Ons kan nie besigheid doen sonder krag nie. Kliënte kanselleer bestellings, want die krag gaan af op spits tye wanneer mense graag wil eet. ‘n Drie-fase kragopwekkers vir my tipe besigheid is onbekostigbaar. Hande in die hare is al wat oorbly.”

Kimmy van der Merwe versorg kinders op ‘n daaglikse basis. Sy vertel hulle moes al begin om die kos op gasstowe voor te berei, aangesien die kinders moet eet.

“Jy verloor tot vier ure se produksie per dag, maar jou lone bly dieselfde en die kliënte verwag jy moet steeds by jou sper datum hou,” vertel Ronald Leach, eienaar van ‘n transitomaatskappy.

Christelle Swanepoel herstel yskaste en vertel dat as gevolg van die beurtkrag, het hulle al ses kompressors verloor op kliënte se yskaste wat hulle moes vervang.

Celeste Becker, eienaar van ‘n handvlyt-en-stokperdtjiewinkel, verduidelik dat dit ‘n groot invloed het op produksie. “Ek moet langer ure werk, om by my spertye te hou. Kredietkaart-masjiene werk nie en niemand loop meer met kontant rond nie. Dit maak kliënte ongelukkig. As die krag afgaan terwyl my masjiene sny, verloor ek materiaal want ek moet meeste werk dan oordoen, dit versoorsaak ook dat my masjien verswak, want niks kan afkoel nie. Ek is bang dat my moederbord tydens só onderbreking groet, omdat ek nie altyd voorbereid is vir wanneer die krag wel afgaan nie. Dis eintlik net ‘n gemors.”

As gevolg van die kragonderbrekings, is daar ook mense wat dan met water-toevoer sukkel. “Ek verloor daagliks geld as die krag af gaan plus mens se toebehore en masjiene kry skade. So nou moet ons werkers laat gaan,” noem Trevor Smith.

Shayne Moodie is ‘n onderwyser en vertel dat dit ‘n stryd is om kinders met beperkte lig- en WiFi beskikbaarheid te leer. “Ek het geen idee hoe die departement van onderwys beplan om volgende jaar elektroniese leer te implimenteer nie. Ek gebruik aanlynhulpbronne om swart en wit bladsye te verbeter, en dikwels moet groot dele van die werk oorgeslaan word, en selfs later herhaal word wanneer die aanvullende materiaal weer toeganklik is.”

Amanda Goeminne is ook afhanklik van elektrisiteit om kinders op te lei. “Ek hou aanlyn skool en as die internet af is, kan ek nie. My werkgewer is streng. As jy een klas kanseleer, is dit aanvaarbaar, maar die volgende keer is dit ‘n skorsing en die derde keer verloor jy jou werk. Ongelukkig beïnvloed beurtkrag die torings, batterye brand uit en daar is ander probleme by die toring.”

Musiek studios lei ook onder die beurtkrag, aangesien hulle nie opnames kan maak nie. Jean-Pierre Duvenage vertel hulle moet gereeld uitruilings met ander kunstenaars doen, en kyk watter tye beskikbaar is vir gemisde opleiding en opnames. “Dit help nie ‘n mens kla nie. Hulle steenkool is baie min en nie genoeg meer vir Suid-Afrika nie.”

Volgens nuusberigte is beurtkrag hier om te bly, of ten minste nog vir die volgende vyf jaar. Wat staan ‘n verbruiker te doen?

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button