Local NewsNews

Chantelle bring die regte dier en eienaar bymekaar

Review het met Chantelle Watson gesels om te hoor wat haar werk as ontvangsdame en aannemingsagent by die Mollie Hawken Dierekliniek behels.

POLOKWANE – Om met diere te werk is nie een van die maklikste en skoonste werke nie, maar die bevrediging wat ‘n diereliefhebber daaruit put, maak alles die moeite werd.

Review het met Chantelle Watson gesels om te hoor wat haar werk as ontvangsdame en aannemingsagent by die Mollie Hawken Dierekliniek behels.

Chantelle het verlede jaar in Februarie, kort voor die amptelike opening van die Mollie Hawken Dierekliniek by die Diere Beskermings Vereniging (DBV) aangesluit. Sy vertel hoe dit gebeur het.

“Ek het ‘n rukkie voordat ek by die DBV betrokke geraak het, ‘n kat, Chloe, aangeneem by ‘n ander organisasie. Na haar aanneming, het ek net al hoe meer dierereddingsorganisasies en stories begin volg op Facebook. Chloe het vinnig by ons huishouding aangepas en ons is baie lief vir haar.”

Ongelukkig het haar bure se kinders vir Chloe raakgeskiet en na haar dood het Chantelle besluit om meer betrokke te raak by Polokwane DBV. “Ek het meer DBV stories begin deel op Facebook en navorsing oor verskillende honderasse begin doen.”

https://www.citizen.co.za/review-online/203742/lees-n-brief-aan-liefste-engel-kat-chloe/

In 2017 kontak dr. Nadia Krige vir Chantelle en sy en haar lewensmaat, Raymond het naweke foto’s van die diere begin neem en dit op die DBV se Facebookblad geplaas.

“Dr. Nadia het my genooi vir ‘n onderhoud om by die Mollie Hawken Dierekliniek te werk as ontvangsdame en aanneemagent. Ek moes ook die DBV Facebookblad bestuur. Dit was vir my so ‘n groot voorreg en eer om deel te kon word van hierdie span, ek kon nie die geleentheid om elke dag tussen diere te kan werk van die hand wys nie. Nadia is ‘n wonderlike persoon en ek is so bly sy het my betrek by die DBV. Ek het ongelooflik baie by haar geleer die jaar wat ek saam haar gewerk het, nie net oor diere nie, maar oor myself.”

“My pligte as aannemingsagent is om die DBV se Facbookblad op datum te hou en sĂł aanneming te verseker. Dit is vir my baie belangrik om seker te maak die hond of kat en die gesin of persoon wat die troeteldier aanneem is versoenbaar. Ek pas streng die NSPCA aannemings prosedures toe. Dit is vir my baie belangrik dat die diere-kind tevrede is en ‘n liefdevolle huis vind, dit is daardie dier se laaste kans op geluk.”

Vandat Chantelle betrokke geraak het by die DBV, het die aannemings toegeneem.

Chantelle vertel dat elke aanneming waarby sy betrokke is, vir haar baie spesiaal is en sy altyd vra dat die mense haar op hoogte moet hou van hoe dit met die dier gaan.

“Dit maak my dag as ‘n diere-kind weer kom kuier by die kliniek. So rukkie terug het twee Border Collie-kruising sussies vir ons kom kuier al die pad van Pretoria af. Hulle is dolgelukkig.”

Chantelle vertel dat die DBV se inspekteure weer huisbesoek doen na die diere aangeneem is om seker te maak alles verloop vlot by hul nuwe huise.

“Ek geniet dit vreeslik om met diere te werk, aangesien jy hul stem word. Mense kan hulself verdedig en kla wanneer ‘n situasie sleg is, maar ‘n dier moet op iemand staatmaak wat dit vir hulle kan doen. ‘n Dier se liefde is lojaal en onvoorwaardelik.”

Tania le Roux, voorsitter van die DBV-komitee vertel dat Chantelle vir die DBV ‘n baie groot aanwins is.

“Ons kan op haar staatmaak om altyd die regte dier en eienaar bymekaar te bring, dit is ‘n baie spesiale gawe en iets wat ‘n salaris nie kan koop nie. Chantelle en Raymond spandeer so baie tyd by die DBV dat ons hulle moet dwing om huis toe te gaan.” Dit is ‘n groot voorreg om hulle as ambassadeurs vir die DBV te kan hĂŞ.

Sy vertel dat Chantelle nie ‘n maklike werk in die kliniek het nie. “Dit is ‘n emosionele-dreinerende werk aangesien jy een oomblik iemand moet vertroos wat ‘n dier verloor het en die volgende oomblik weer bly moet wees saam met iemand wat ‘n hondjie of katjie aangeneem het. Ek het baie respek vir haar gekry in die net meer as ‘n jaar wat ek haar ken en hoop dat sy nog vir baie jare deel van ons span sal wees. Chantelle het baie potensiaal en daar is nog baie grootter geleenthede wat vir haar wag by die DBV.”

In haar vrye tyd gaan stap Chantelle met haar honde-kinders en lees ook graag. “Ek hou daarvan om reekse en rolprente te kyk sook om in die tuin te werk. Ek vat ook my een pug, Remo, na Limpopo K-9 Academy vir honde opleiding. Ek het al so baie by hulle geleer oor diere gedrag, sekere honde rasse en hoe om ‘n dier te hanteer wat gedrags probleme het. Elke hond wat by ons aangeneem word kry ‘n Limpopo K-9 Academy voucher vir ‘n maand se gratis basiese opleiding. Dis altyd vir my so lekker as ek een van ons aanneem honde by die skool raak loop.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button