Local NewsNews

Ou liefde roes nie

Estelle Nothling-Hefer en haar man Gideon Hefer het ‘n tweede kans gekry op liefde, meer as 50 jaar nadat hulle die eerste keer ‘n vier jaar-lange verhouding gehad het.

POLOKWANE – Vanjaar, op Valentynsdag, het hulle hul vyfde huweliksherdenking gevier en die paartjie loop oor van dankbaarheid oor dié tweede kans wat hulle op geluk gekry het. “Dit was wonderlike jare sover en ons is die Here so dankbaar dat hy ons weer bymekaar gebring het en die laaste jare die tyd saam gegun het,” vertel Estelle.

Estelle se eerste man is na ‘n huwelik van 47 jaar in 2009 oorlede en Gideon was 50 jaar met sy vrou getroud, voor sy in 2013 oorlede is.

Estelle en Gideon het mekaar ontmoet deur die tussenkoms van ‘n familievriend wat hulle in Pretoria aan mekaar voorgestel het in 1954. Hy het by sy oupa-hulle gekuier en op Bloemfontein gewerk as vakleerling by die spoorweg en sy het by ‘n bank in die destydse Pietersburg gewerk. “Dit was ‘love at first sight’,” vertel sy.

Die eerste aand nadat hy by haar gekuier het, het hy met ‘n sakdoekie van haar, toegevou in sy hand, gesit en sy broer het vir hom gevra wat gaan aan. “Ek wil my hand nooit weer was nie,” het hy hom geantwoord.

‘n Langafstandverhouding van vier jaar van briewe skryf vir mekaar en eenmaal per week se bel het gevolg. Hy het gedurende die tyd tweekeer vir haar kom kuier. “Die eerste keer op ‘n bromponie, al die pad van Bloemfontein af. Ek het weereens by my oupa in Pretoria oornag en van daar af Pietersburg toe gery. Ek het 10 dae gekuier. Die hiernatoe kom was niks, maar sjoe! Die teruggaan was erg. Hier duskant Kroonstad het ek my pa van ‘n tiekieboks gebel en hy het my kom haal met ‘n droogskoonmaakvoertuig om die ‘scooter’ in te laai.”

Die verhouding het egter ongelukkig tot ‘n einde gekom. “Iets het gebeur en jy ken mos mense: hulle praat en skinder en vertel stories, en toe is ons uitmekaar.” Deur die jare het hulle mekaar soms gesien en van mekaar gehoor deur familie en vriende.

Estelle en haar eerste man, wat in ‘n bank gewerk het, het rondgetrek en, terwyl hulle in Polokwane gewoon het, het hy afgetree in 1991. Gideon en sy vrou weer, het tydens haar laaste jare in Benoni gewoon tot sy in 2013 oorlede is.

“Ons was altwee redelik gelukkig getroud, maar Gideon het al gesê hy het soms gewonder hoe sou dit wees as dinge anders uitgedraai het, “ sê Estelle. “Dis seker maar menslik.”


In Desember 2013 het hulle mekaar weer by ‘n kerkbyeenkoms in Pretoria raakgeloop. Die ou vlammetjie het weer opgevlam en Gideon het vir haar gesê: “Ons moet gesels.” Sy goed was egter reeds gepak – hy was op pad Nieu-Zeeland toe om by sy twee seuns te gaan woon. Al sy meubels was reeds verkoop, maar hy het vir haar gevra of hy ‘n draai kan kom maak. Na haar man se dood het sy in 2010 na Ons Tuiste getrek en daar gaan woon. Sy het “ja” gesê en hy het kom kuier. Estelle het vir hom gesê hy moet maar eers Nieu -Zeeland toe gaan en daar kuier en dan terugkom sodat hulle kan gesels, maar hy was vasberade: hy gaan nie sonder haar nie, en hulle moet eers trou. Teen die einde Januarie 2014 het hy weer kom kuier sodat hulle alles kon uitsorteer. Op 21 Januarie het hulle verloof geraak. Toe hulle op ‘n troudatum moes besluit het Gideon ‘n pen gevat, sy oë toegeknyp en met die pen op ‘n datum gedruk. Dit was op 14 Februarie, Valentynsdag van 2014. Baklei hulle ooit? “Nee nooit, ek hardloop te vinnig,” spot Gideon.

“Ek is baie lief vir haar, nog liewer as ooit vantevore” sê hy.

“Ons is baie gelukkig en vul mekaar aan,” voeg Estelle by. “Ek is ‘n geduldige en verdraagsame mens en hy is rustig.”

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button